Die prag en praal van ‘n sprokiesverhaal

Megan Saaiman

10 Paartjies. Een gesogte titel. Een asemrowende sprokiesaand.

Jaarliks word die bekende sprokie, Beauty and the Beast, met ‘n bietjie Helpie-magic herskryf en op Donderdagaand 9 Mei 2019, het Beauty and the Beast na ure se voorbereiding vir die groot aand ‘n pragtige realiteit geword.

Op die aand het elke paartjie deelgeneem aan vier kategorieë, naamlik informele drag, die paartjie-dans, formele drag en die vraag-en-antwoord-sessie. 2019 se tema, “Hier is ek”, is geïnspireer deur The Greatest Showman. Die danse, klere en antwoorde moes die tema uitbeeld om werklik die deelnemers se towerkrag te wys.

Bekende sterre uit die mode- en vermaaklikheidswêreld, Cezanne Coetzee, Armand du Plessis, Elma Postma en Carien Botha was beoordelaars tydens die glansryke geleentheid.

Op die aand het Xanté de Klerk die beoordelaars se asems weggeslaan en sy is as Beauty gekroon. “Dit is ‘n uitdagende proses, maar op die ou end is al die insette die moeite werd!” sê De Klerk.

André Groenewald is aangewys as Beast. “Jy sal die ervaring nooit vergeet nie en dit is regtig net lekker,” vertel Groenewald na afloop van die kompetisie.

De Klerk het ook die titel van Mej Persoonlikheid verower. Keith Whitehead is as Mnr Persoonlikheid aangewys. Mej en Mnr Fotogenies gaan onderskeidelik aan Tamsyn Taylor en André Groenewald. 2de prinses en prins is Tamsyn Taylor en Adriaan Steyn en 1ste prinses en prins is Pascale Viviers en Zack van Zyl.

“Kreatiwiteit en selfvertrou het tydens die hele proses in elke kind gegroei,” sê hooforganiseerder Me Annemarie Venter.