Die lewe is ’n lied vir oud-Helpie

Los Angelos wink vir oud-Helpie Charl du Toit. (Foto verskaf)

Deur Marnique Hibbert

Die mees gewilde roete wat leerlinge van Helpmekaar Kollege kies om ná matriek te volg, is die pad universiteit toe – maar natuurlik is dit nie die enigste volgende stap wat leerlinge kan neem nie. Daar is ook ander kreatiewe, avontuurlustige, liefdadige en interessante opsies wat die Helpies kan volg. Soos om kunstenaars te word en meer kreatiwiteit uit te leef. Die oud-Helpie Charl du Toit het sy droom om sangkunstenaar te word met durf en daad aangepak.

Du Toit het nog altyd geweet hy moet ‘n musikant word. “Ek het geweet as ek enige iets anders doen, gaan ek net my tyd mors en ongelukkig wees,” sê hy. As Helpie, was hy alombekend onder sy mede-leerlinge. Du Toit het diep voetstappe in die skool se gange gelos en sy vele Helpie-aanhangers getuig steeds hiervan.

Du Toit is tans hard aan die werk aan sy loopbaan as sangkunstenaar en is besig met meer as een projek. “Tans werk ek saam met Die Heuwels Fantasties en komponeer vir hulle twee nuwe liedjies, waarvan ek op een verskyn. Ek maak meestal Engelse musiek, so ek weet hierdie projek sal baie van my aanhangers verbaas.”

Du Toit se debuut-album, Autumn, het onlangs verskyn. Hy het eksklusief aan sy album gewerk en sê hy is baie trots hieroor. Hy het groot sukses behaal en het vir hierdie einste projek ‘n kontrak by ‘n kunstenaarsbestuursbesigheid in Los Angeles losgeslaan.

Die idee en uitleef van kreatiwiteit is iets wat Du Toit na aan die hart lê: “Ek dink kreatiwiteit is enige iets wat ‘n persoon skep met die intensie om ‘n verandering in jouself of die mense om jou te bring. Kreatiwiteit het die manier om laasgenoemde reg te kry,” sê hy. Hy praat ook oor sy kommer oor die min geleentheid vir die uitleef van kreatiwiteit op hoërskool. “Al waar dit inkom, is in derde partye soos byvoorbeeld tienertonele. Ek is van mening dat kreatiwiteit nie genoeg aangemoedig word in die alledaagse skoollewe nie. Dit is vir my baie hartseer, want kreatiwiteit is so belangrik vir kinders se ontwikkeling.”

Du Toit het besluit om nie universiteit toe te gaan nie en sê hierdie besluit het hom al baie alleen laat voel. Maar tog het Du Toit sy plekkie in die son gevind in Los Angeles. Hy het ‘n gemeenskap van mense gevind wat nes hy ‘n passie het vir musiek. “Ek voel ‘n sterk band met my mede-kunstenaars in Los Angeles, want ek weet, nes ek moes hul ‘n brawe keuse neem om nie verder te gaan studeer nie, maar eerder hul drome te volg om musiek te maak. Dit was die eerste keer wat ek omring is deur mense wat my ten volle verstaan. Dit is werklik ‘n seëning.”

Du Toit beplan voorts om homself in die toekoms in Los Angeles te vestig. Hy en sy span is aktief besig om hierdie droom ‘n realiteit te maak.

Du Toit is werklik ‘n getuienis van die stem van kreatiwiteit onder die jeug en ‘n inspirasie aan alle Helpies wat daaraan dink om ‘n alternatiewe roete te volg.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *