Die bruin reus kry groen baadjie

Milbert van der Spuy gereed vir Eco-brick-aksie. Foto deur Cameron Sharp.

Die “Red ons aarde”-omgewingsplakkaat, as deel van die 2019 Helpie-way inisiatief, is die inspirasie agter die totstandkoming van die Groenprojek.

 

Regoor die wêreld is jongmense besig om betrokke te raak by die stryd teen aardverwarming. En Helpies staan beslis nie terug nie. Me Carien Wessels, vir wie omgewingsake na aan die hart lê, is opgewonde om die geleentheid te hê om ‘n verskil te kan maak. “Een van die Helpie-way omgewingsplakkate het ‘n seeskilpad uitgebeeld en ek het gedink dit is ‘n fantastiese inisiatief,” sê sy.

Sy het ‘n punt daarvan gemaak om te begin oplet hoeveel plastiek deur die skool gebruik word en het besef dat die skool die perfekte platform is om prakties iets aan die probleem te kan doen. In ‘n skool is daar honderde kinders wat elke dag skoolkos eet, die snoepie gebruik en bottels water en koeldrank drink. Dit is groot hoeveelhede plastiek wat gebruik en weggegooi word. Me Wessels glo ook dat baie mense nie regtig dink aan die manier hoe hulle plastiek gebruik nie. Daarom is die skool die perfekte plek om bewusmaking te vestig en jongmense in te lig oor omgewingsbewaring. Dit skep ‘n kultuur van omgee by die volgende generasie.

Die Groenprojek by Helpies is hieruit gebore. Hierdie projek is self nog ‘n groentjie en gaan in verskillende fases uitgerol word. Me Wessels het haar span matrieks wat hard werk om die planne van die grond af te kry. Die eerste fase is die Eco-brick projek. “ Dis ‘n opwindende inisiatief,” sê Me Wessels opgewonde. Enige nie-herwinbare stof word in ‘n leë plastiekbottel gedruk en vasgestamp met ‘n stok. Dit word so gekompakteer dat die materiaal kliphard word. Dit word dan as boumateriaal gebruik. Daar is bottels met die Eco-brick logo by die snoepie gehang en elke onderwyser sal binnekort een in hulle klas hê . Die logo is reeds ontwerp en hulle is besig met die amptelike plakkate en bemarkingsvideo wat hulle binnekort vir die skool gaan wys.

Chris van Niekerk, werk ook nou saam met Me Wessels en haar span. Plastiekeetgerei gaan geleidelik uitgefaseer word en vervang word met hout. Plastieksakkies gaan ook plek maak vir papier.

Ander projekte wat beplan word vir die toekoms, is om ‘n borg te kry vir herwinningsasblikke,wat dan op strategiese plekke geplaas gaan word. Helpmekaar 24 sal ook as ‘n instrument gebruik word om herwinningswenke aan kinders deur te gee. Helpies kan byvoorbeeld eerder hulle skoolkos in houers skooltoe bring as in plastieksakkies. Aluminium waterbottels is ook ‘n beter opsie as plastiekwaterbottels.

Alhoewel die groepie matrieks hierdie projek as deel van hulle portefeulje aanpak, wil die Groenprojek uiteindelik alle Helpies aan boord kry. As elke persoon hulle nie-hernubare vullis in die Eco-bricks bottels sit en selfs by die huis ook Eco-bricks maak en skooltoe bring, sal dit ‘n reuse verskil maak. Vir Me Wessels is dit ‘n hartsaak: “Elke inwoner van ons planeet moet bewustelik aksie neem en dink aan verbruiking. Ons kan nie meer glo dis iemand anders se probleem nie. Meeste plastiek eindig uiteindelik op in ons grootste ekostelsel – die see. Klein veranderinge gaan uiteindelik ‘n groot verskil maak.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *