‘Detensie’ gaan voort tydens inperking

Marnique Hibbert

Die Detensie-span oefen aanlyn. Foto verskaf.

Die Covid-19-virus en gepaardgaande inperking kan geensins ‘n demper plaas op die passie, visie óf deursettingsvermoë van die tienertoneelstuk Detensie se toegewyde span nie. Elke betrokke toneelleerling en onderwyser het tydens die nasionale inperkingsperiode steeds hard gewerk om seker te maak hulle is slaggereed vir die kompetisie. Detensie bied ‘n ligsinnige blik op ‘n detensieklas waarby vier seuns en die drama-juffrou betrokke is. Die stuk beloof lekker lag, maar ook ‘n traan of twee.

 

Alhoewel die ATKV nog geen amptelike aankondiging gemaak het oor die voortgang van die kompetisie nie, glo Fanie Labuschagne (gr. 11) dat die kompetisie wel later as die oorspronklike datum sal plaasvind, maar dat dit die grootte van gehore sal beïnvloed. Mnr. Eghard Basson meen dat die kompetisie óf na volgende jaar kan skuif óf dat die organiseerders dalk aanlynplatforms sal oorweeg.

 

Die inperkingstydperk bring ook verdere uitdagings mee. Skielik word die rekenaarskerm ‘n mede-akteur. “Ons verlang na die interaksie komponent van teater,” sê mnr. Basson. “Ek mis die sosialiseering tydens breke.” Leerlinge oefen daagliks afsonderlik en dan kom die groep op Zoom, MS Teams of Skype bymekaar om saam te oefen. Stadige internet kan haakplekke veroorsaak. Fanie Labuschagne (gr. 11) sê: “Ek mis my vriende en die dinamiek wat verlore gaan omdat ons groep nie bymekaar is wanneer ons oefen nie.” Volgens Fanie is die tienertoneelgroep, bevoorreg om deur sulke passievolle onderwysers ondersteun te word en daar is geen gebrek aan motivering nie. “Hulle gaan uit hulle pad uit vir ons,” sê hy. “Hulle is bereid om enigeiets te gee om ons te help.”

 

Mnr. Basson is beïndruk met sy leerlinge se gesindheid. “Hulle is optimistiese en hulle gee my die nodige energie. Repetisies gee aan ons die geleentheid om te ontsnap weg van Wiskunde en virusse.” Die lewe moet iewers weer na normaal terugkeer en tienertoneel is ‘n geliefde komponent van dié normaal.

 

Fanie se raad vir mede-dramaleerlinge in dié tyd? “Werk verskriklik hard.”

 

 

Nasionale Toneelspelkompetisie Finaal

Ruan Botha (gr. 11) is ook aangewys as die algehele wenner, Grade 6 Trinity Speech & Drama-wenner in SA vir 2019.

Helpmekaar Kollege is hierdie jaar die skool met die meeste verteenwoordigers by hierdie kompetisie. Hierdie gesogte kompetisie moes noodgedwonge ‘n nuwe baadjie aantrek weens die Corona-uitbraak. Kandidate van regoor die land moes videogrepe instuur om gekies te word vir die top 80 wat later die jaar in die Kaap op die Kunste Kaap-verhoog gaan meeding omdie titel. Die volgende leerders is deur na die finaal:

 

Reeder Vermaak (gr. 12)

Ruan Botha (gr. 11)

Marno Breytenbach (gr. 9)

Ansie du Plessis (gr. 9)

Julian Robinson (gr. 9)

Lehan Kruger (gr. 9)

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *