COVID-19: Rede tot kommer?

Anja Steyn

Die berugte COVID-19 virus, oftewel, die Koronavirus, soos dit algemeen bekend staan, is tans wêreldwyd ’n bron van kommer. Waarom die paniek?

 

Die uitbreking van dié virus het in Desember 2019 in Wuhan, China, begin. Volgens die Johns Hopkins Universiteit het die dodetal op 4 Maart 2020 reeds op 3 214 gestaan, terwyl meer as 94 251 gevalle van dié virus al bevestig is. COVID-19 gevalle is in meer as 72 lande aangemeld met China, Suid-Korea en Iran wat die meeste gevalle het.

 

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het op 30 Januarie die uitbreek van COVID-19 as ’n openbare gesondheidskrisis verklaar. Op 1 Maart het die Verenigde Nasies $15 miljoen aan kwesbare lande geskenk om die verspreiding van die virus te keer. Dit is dus duidelik dat daar internasionaal vrese bestaan oor die impak van COVID-19.

 

Is COVID-19 egter so ’n groot bedreiging? Volgens die WGO sterf ongeveer 650 000 mense jaarliks aan griep, terwyl 17,9 miljoen aan kardiovaskulêre siektes sterf. Verder bevestig Statistieke Suid-Afrika dat gemiddeld 58 mense elke dag in Suid-Afrika vermoor word. Dit blyk dat ander siektes en doodsoorsake veel meer gevare as COVID-19 inhou.

 

Angela Rasmussen, viroloog aan die Universiteit van Columbia, is van mening dat mense nie te angstig oor die impak van COVID-19 behoort te wees nie en spoor hulle aan om “kalm en ingelig” te bly. “Dit is belangrik dat jy jouself voorberei om jou kans om die virus op te doen te minimaliseer.” Is daar egter rede tot kommer vir Suid-Afrikaners?

 

Tot dusver het COVID-19 nog nie ’n beduidende invloed op Afrika gehad nie. Die eerste geval van die virus in Afrika suid van die Sahara is op 3 Maart in Senegal aangemeld. Alhoewel die virus dus nader kruip aan Suid-Afrika, is daar nog geen rede tot kommer vir Suid-Afrikaners nie.

 

Dit is egter nou belangrik dat die verspreiding van COVID-19 fyn dopgehou moet word sodat ’n moontlike uitbreking beheer kan word.

*Inligting korrek met ter perse gaan

One thought on “COVID-19: Rede tot kommer?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *