Covid-19 in die tyd van ekonomiese onsekerheid

Deur Anja Steyn

Die Covid-19-pandemie is die enigste onderwerp waaroor daar tans gepraat word. Nuusopskrifte vertel van verlate stede, skrikwekkende statistieke en politieke leiers se dade om die virus hok te slaan. Daar word gepreek dat ons asseblief by die huis moet bly en alle kontak met die buitewêreld moet staak – dit is vir ons eie beswil. Tog, soos sake tans staan, gaan miljoene meer mense sterf as gevolg van ekonomiese agteruitgang as van die virus self.

Volgens die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OESD) is Covid-19 die grootste bedreiging vir die wêreldekonomie sedert die 2008 finansiële krisis. Suid-Afrika kan bloot nie nog terugslae aan ‘n alreeds brose ekonomie hanteer nie. ‘n Resessie, dalk selfs ‘n ekonomiese depressie, is ons voorland indien die inperking voortgaan.

Die Goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), Lesetja Kganyago, het vroeër die week aangekondig dat die SARB verwag dat die ekonomie met meer as 6% in 2020 gaan krimp. Wat beteken dit vir ons land? Ekonomiese verval. Werkloosheid en armoede gaan styg en inkomstes gaan daal. Gevolglik sal nog meer mense sterf – en nie as gevolg van Covid-19 nie.

Mnr. Eugene Marais, Ekonomie-onderwyser, is van mening dat die impak van die grendeltydperk massief gaan wees. “Suid-Afrika se ekonomie verloor elke dag van die inperking R 4 miljard.” Hy sê verder dat veral kleiner besighede hul deure gaan moet sluit, wat sal veroorsaak dat “tot ‘n miljoen werksgeleenthede” verloor kan word.

Tito Mboweni, Suid-Afrikaanse Minister van Finansies, beskryf die Covid-19-pandemie na regte as ‘n “wêreldwye ekonomiese skok” tydens ‘n media-inligtingsessie op 14 April 2020. ‘n Globale resessie word verwag, landsburgers kan nie terugkeer werk toe nie en die toerisme-industrie is totaal en al lamgelê. Die vraag is dus: hoe hanteer ons hierdie pandemie sonder om ekonomiese selfmoord te pleeg? Dít blyk onmoontlik te wees. Is dit dan die moeite werd om die ekonomie te laat skade ly as dit beteken dat die virus hok geslaan word? Suid-Afrika moet op sy prioriteite besluit.

Die keuse is duidelik: Óf Suid-Afrika beëindig sy inperking en die aantal Covid-19-gevalle bereik ‘n hoogtepunt, óf Suid-Afrika besluit om voort te gaan met sy inperking en die ekonomie tuimel inmekaar.

Die antwoord op hierdie dilemma is nog nie duidelik nie. ‘n Middeweg klink na die logiese opsie, maar waar die lyn tussen inperking en vryheid lê, is onbekend.

 

Bronne

https://www.gov.za/speeches/minister-tito-mboweni-media-briefing-economy-and-coronavirus-covid-19-14-apr-2020-0000

https://www.oecd.org/newsroom/global-economy-faces-gravest-threat-since-the-crisis-as-coronavirus-spreads.htm

https://www.businesslive.co.za/fm/opinion/editorial/2020-04-16-editorial-mboweni-kganyago-go-all-in-on-covid-19/

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *