22.78° Clouds
Kies jou weergawe:

Help oud-Helpie om ander te help

Curt Van Heerden het in 2008 aan Helpmekaar Kollege gematrikuleer. Vandag help hy om hoop aan honderde rehabiliterende dwelmverslaafdes en hulle families te gee deur die Institution of Grace Restoration Rehab Centre. “Dit wat ek self beleef het in my kinderdae, armoede en blootstelling aan verslaafdes – het daartoe gelei dat ek ‘n verskil wil maak,” vertel Van Heerden. Institution of Grace huisves mense wat die siklus van verslawing wil breek. Hulle maak grootliks op donasies staat, aangesien baie van die inwoners nie die fooi kan bekostig nie. Indien u enige skenkings van huisraad, eetgerei, teëls, meubels ens. wil skenk, kontak Me Carien Wessels.

Oud Helpie gekroon as 2de prinses by Miss Varsity Cup

Oud-Helpie, Michaela Wright, is onlangs as tweede prinses by Miss Varsity Cup gekroon. Sy het met met Jené Becker gesels oor haar deelname en die pad vorentoe.

Vraag: Hoe sal jy die Miss Varsity Cup-ervaring opsom?

Antwoord: Vir my was die ervaring een van persoonlike groei aangesien ek soveel van myself geleer het soos waar my passies lê, wat my sterk- en swakpunte is en waarheen ek eintlik op pad is. n Mens doen baie introspeksie en dis die mooiste deel van die kompetisie jy leer om ander mense te motiveer, aan jou swakpunte te werk en jouself op te bou. Dit was ook n goeie manier om te sosialiseer op kampus en mense te ontmoet wat jy andersins nie sou nie.

V: Wat het jou laat besluit om deel te neem aan hierdie kompetisie?

A: Dit was vir my belangrik om mense te ontmoet en in so n geesdriftige en gesellige omgewing was dit baie maklik. Ek sal graag in die toekoms aan meer skoonheidskompetisies wil deelneem.

V: Watter lesse het jy uit die kompetisie geleer?

A: Dit het my baie van tydsbestuur geleer asook om alles in die lewe ten volle aan te pak, ten spyte van uitdagings. Jy moet nooit probeer om iemand te wees wat jy nie is nie, want mense sien dadelik deur jou. Ek het ook geleer van deursettingsvermoë en om jouself met ander te probeer vergelyk nie, en dit was beslis vir my n moeilike les om te leer.

V: Wat was jou gunsteling afdeling tydens die kompetisie?

A: Al die wenners van die verskillende provinsies is met n langnaweek in die Kaap bederf. Dit was lekker om saam met n groep dinamiese jong dames te kon sit en besluit waarheen ons die kompetisie wou neem en wat ons wou verander om binne die volgende paar jaar n werklike impak te maak.

V: Het jy enige verantwoordelikhede as 2de prinses van Miss Varity Cup?

A: Ja, gelukkig kan jy iets waaroor jy werklik passievol is, kies. Ek is tans besig om n nuwe beweginggenaamd “Worth More” op die been te bring. Die doel is om enige iemand wat benadeel of onderdruk voel en seergemaak is, krag te gee en hulle te wys wat hulle waarde is, ten spyte van hulle verlede en/of omstandighede.

V: Het jy tydens jou skooljare by Helpmekaar Kollege iets geleer wat jou met die kompetisie gehelp het?

A: Dié vraag is een wat my diep raak! Ek het eintlik eers na skool besef wat n groot impak Helpmekaar Kollege op my lewe gehad het en nog steeds het en ek kan met trots getuig dis juis die skool wat my geleer het van deursettingvermoë en vasbyt. Die kere van in die reën staan en sê: “Helpies reën nie nat nie” en “Helpies kry nie koud nie” as die temperatuur -5°C by die Bult is,het my geleer datn mens altyd die beste van jou omstandighede op daardie stadium moet maak.

V: Het jy enige advies vir toekomstige deelnemers?

A: Geniet dit net! Baie keer dink mense jy moet perfek wees, maar jy hoef nie. Geniet dit net om deel te neem en wees vol vertroue in wie en wat jy is, want daar is niks mooier as dit nie. Wees die beste jy wat jy kan wees!

V: Het jou deelname aan die Miss Varsity Cup enige deure vir jou oopgemaak?

A: Inderdaad, ek het die platform wat die kompetisie bied om jou blootstelling te gee aan soveel ander geleenthede waar jy werklik ‘n verskil kan maak en jou passie kan uitleef, onderskat! Ek gaan later in die jaar van my geleenthede op sosiale media met julle deel. Hou dié spasie dop!