22° Clear
Kies jou weergawe:

Take a break en vind jouself

Marié Mouton

Helpmekaar Kollege se jaarlikse Getaway-kamp het hierdie jaar ‘n splinternuwe byvoeging gekry. Die take a break-kamp het plaasgevind by Rocky Valley Christian Camp vanaf 2 tot 3 Mei. Tydens die kamp was daar ‘praise and worship’-sessies en gesprekke waar uitdagende, relevante geloofsvrae hanteer is. En volgens Ruan Mackridge (gr.12) was die twee dae letterlik “‘n breek van alles”.

Josh Stockigt, ‘n matriekleerder en bestuurslid van Time Out, sê die twee dae was kort, maar kragtig en ‘n goeie inspuiting na ‘n lang en uitmergelende eerste termyn. Die kamp se spesifieke tema was om jouself beter te leer ken, om ‘n ruskans te vat van die gejaagde wêreld daar buite en om inwaarts te fokus op jouself en jou geloof. Vir Koert Kritzinger (gr.12) het die kamp geleer dat jy nie jou eie identiteit in ander moet soek nie. Jy is uniek en moet jou identiteit in jouself vind.

Die boodskap gedurende die twee dae was dat leerders moet leer om meer ontvanklik te lewe, want die Here is altyd naby. Die jeug se aandag word gereeld afgelei deur berge skoolwerk en ‘n vol sosiale lewe. Leerders kan so besig wees dat hulle vinnig onbewus raak van die Here se aanhoudende teenwoordigheid in hulle lewens. Die boodskap was klinklaar: “Soek en vind die Here in jou alledaagse lewe, want Hy is heeltyd met ons.”

Na aanleiding van dié boodskap rig die TimeOut-bestuur graag die volgende uitnodiging aan die mede-Helpies: “Ons is ‘n familie vir die verlore Helpies op soek na hul eie identiteit en die Here. Vir die volgende kamp nooi ons alle “imperfectly perfect” Helpies om sonder verwagtinge saam met ons op ‘n reis te gaan waar jy saam met ‘n hele nuwe familie en ‘n verligte siel kan terugkeer.”

Helpies se nuwe Hub

Cara Kotze

Dit gons reeds ‘n geruime tyd in die gange oor die beplande Hub. Care Kotzé het Mnr Klaus König, skoolhoof, gepols oor wat beplan word.

Die Hub wat teen Augustus 2020 in gebruik geneem sal word, gaan op die vierkant tussen die wetenskapklasse en die krieketnette geleë wees. Die funksionele spasie gaan bestaan uit vyf IT-lokale en ‘n bibliozone. Die Hub sal toegerus wees met rekenaars en drukkers en sal leerders in staat stel om navorsing en aanlyn-soektogte te doen en selfs aanlynkursusse te voltooi. Dit gaan by uitstek ‘n akademiese omgewing wees met die fokus om leerders doeltreffend te laat funksioneer binne die 21ste eeu. “Die behoefte het ontstaan omdat ons alles in ons vermoë wil doen om ons leerders gereed te maak om eendag in die regte wêreld te werk,” sê König. Volgens die Wêreldbank benodig leerders wat die beroepswêreld betree beter kritiese denke en sosio-emosionele vaardighede. “Die vermoë om tegnologie te gebruik is een manier waarop leerders gebruik kan maak van tegnologiese vooruitgang.” Tog is dit nie genoeg om net rekenaarvaardighede te bevorder nie. “Leerders moet ‘n snelveranderende wêreld leer bestuur, hulle moet effektief kan kommunikeer met ander, kreatief dink, en probleme leer oplos”. Die Hub gaan dus veel meer wees as ‘n nuwe kuierplek of ‘n plek om doelloos op die Internet rond te soek.

Met behulp van opvoedkundige sielkundiges, ‘n tegnologie-kundige en ander spesialiste word die bou van die moderne, multifunksionele omgewing fyn beplan. Leerders gaan toegelaat word om onafhanklik te werk te gaan op maniere wat by min ander skole in Suid-Afrika beskikbaar is. König beklemtoon die erns daarvan om die gebou so omgewingsvriendelik as moontlik te hou. Lae elektrisiteitsverbruik sal verseker word deur die installering van sonpanele.

Isabella Venter (gr.10) is opgewonde oor die Hub. “Dit gaan ons voorberei vir die modere werkwêreld waaraan ons eendag blootgestel gaan word.” Danielle du Preez (gr.10) sê: “Helpies gaan grootskaals baat by die HUB.”

Hoekom die skuif na Helpmekaar?

Chanell Landman

Om te besluit na watter Hoërskool te gaan is een moeilike besluit. Maar die besluit om van skole te verander, selfs moeiliker. Die Flitse het ‘n paar Helpies gepols oor hoekom hulle Helpmekaar Kollege gekies het?

Dit is moontlik dat leerders tydens hulle onderhoud vasgevang word in meneer Klaus se toorwoorde of dat die Helpie-gees mense laat tuis voel. Dit ís tog ons plek. Dit is egter anders vir leerders wat hulle reis in ander skole begin het.

Soné Sharp (Gr.11) het eers aan die begin van graad 10 by die Helpie-familie aangesluit. Sy sê dat verskeie mense vir haar van Helpmekaar se prestasies vertel het. Sy voeg by: “Bo dit het ek van die “Helpie Magic” gehoor, wat ek nie kon verstaan nie, maar nou doen ek.” Sy sê dat sy beslis die regte keuse gemaak het.

Ander leerders soos Michael Payne (Gr.11) sê dat die hoofrede vir sy skuif die uitmuntende akademiese prestasie van Helpmekaar was.

Nadia van Niekerk (Gr.10) het hierdie jaar haar reis by Helpmekaar begin. Sy sê: “By Helpmekaar is daar meer uitdagings en dit motiveer jou om harder te werk en te verbeter om jou doelwitte te bereik.”

Dit blyk dat daar wyd en suid van die Helpie-hartklop gehoor word en dat dit onweerstaanbaar is.

Leerders wat van ander Hoërskole na Helpmekaar skuif kom van ‘n hele aantal ander skole waaronder die meeste van Hoërskool Monument.

 

Om te vra of nie te vra?

Matriekafskeid maak die manne mal

Marié Mouton

Alhoewel dié Matriekafskeid eers die 5de Oktober is, is hierdie belangrike affêre hoog op elke matrikulant se agenda. Die rokontwerp, haarstyl en grimering is dalk al waarop die meisies fokus, maar die seuns het ander struikelblokke in hulle pad. Hulle hooffokus is wie, hoe en wanneer om te vra…

Leonard Hamilton, ‘n matrikulant, het gelukkig die ys gebreek vir al die paniekbevange matriekseuns, toe hy reeds in die tweede week van die nuwe skooljaar vir Phoebe Barry matriekafskeid toe gevra het.

Hy sê: “Hoe vinniger jy dit doen, hoe beter.” Volgens hom moet jy nie wag tot die laaste oomblik nie, want “dan gaan jou prinses op die ou end self van die toring afklim.”

Leonard het vir Phoebe vroegoggend voor skool gevra met rooi rose en ‘n briefie. Volgens Phoebe het sy dit waardeer dat dit buite die publieke oog was. Hy sê hy het gemaak asof niemand rondom hulle staan nie, en dit is sy belangrikste raad. Nog advies van Leonard is om deur die week vir jou metgesel leidrade te laat, sodat sy nie heeltemal onkant gevang is nie.

Charl du Toit het kort daarna in Leonard se voetspore gevolg en vir Danielle Roodman gevra. As jy steeds twyfel, volg Charl se raad: “Moenie te veel daaroor dink nie en wees jouself.”

Helpies se staatmakers Helpmekaar-busbestuurders sorg dat Helpies veilig vervoer word.

Busbestuurders werk harder as wat ons dink

Moné Rossouw

Die meeste Helpies word elke oggend met ‘n gesukkel wakker om betyds te wees vir die bus. Daar word selde gedink aan die feit dat die bus nie elke oggend vanself by die busstop parkeer nie.

Elke oggend staan 55-jarige Elson Chiloane, ‘Maximus’ se busbestuurder, al om 4:00 op, sodat hy teen 4:40 in die bus kan klim en ry tot by die eerste busstop in Featherbrooke. Hy beskryf sy belewenis aangaande dié vroeë werksure as volg: “Elke keer as ek so vroeg opstaan, dan vóél ek die pyn.” Hy arriveer teen sowat 5:45 by die busstop om die eerste paar passasiers op te laai. Eers moet daar gery word tot by verskeie busstoppe, en daarna arriveer hy uiteindelik weer by die skool.

Die dag is egter nog lank nie verby nie. ‘Vasklou’ se bestuurder, Lucky, vertel dat daar eers tot 8:30 ‘n vergadering is met mnr. JP rakende die busreëlings wat elke dag varieer. “En dan is dit werk, werk werk.” Die roosbome in die tuin kort ‘n dringende snoei. Die swembad is weer groen na die reën. ‘n Koshuisleerder het sy kamerdeur uit sy skarniere geruk. Die rugbyveld se gras is weer te lank en die snoepie se dak moet oorgedoen word. Die is net enkele voorbeelde van die daaglikse onderhoud en herstelwerk wat gedoen moet word. “Hulle is rêrig onmisbare skakels in die Helpmekaar-ketting,” bevestig mnr. JP. Die klein dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar, dinge wat ons skool eintlik ‘n pragskool maak, is tot ‘n groot mate te danke aan ons busbestuurders.

Na skool moet elke bestuurder, soos aangewys tydens die vergadering, leerders na ‘n sport of kultuuraktiwiteit vervoer. Meeste van die drywers keer dan daarna terug skool toe om almal op te laai wat weer afgelaai moet word. Die eerste bus kom eers na 17:00 terug by die skool en die laaste bus arriveer rondom 18:30.

Dit is die daaglikse werksure van Helpmekaar se busbestuurders. En die volgende môre begin alles weer van voor…

 

Tiaan Botes spog met 15 000 Instagram volgers nie sleg vir 'n rugbyspeler nie geneem deur Erich Cloete.

Tiaan Botes

Profielonderhoud

Marié Mouton

 

Tiaan Botes is ‘n rugbyspeler van formaat en vul tans die posisie van losskakel (10) in die Helpmekaar eerste-rugbyspan. Met oor die 15 000 Instagram-volgers, verskeie borgskappe, met onder andere Ultimate Sport Nutrition en ‘n plek in die SA-skolerugby-oefenspan van 2019. Hy vertel vir die Helpieflitse meer van homself, sy sosiale platforms en sy drome vir die toekoms.

V: Jy oefen rugby, atletiek, sowel as in die gimnasium, maar watter een van hierdie sportsoorte is jou gunsteling?

A: My gunsteling is rugby, want dit is die rede waarom ek so hard oefen in die gimnasium.

V: Wat doen jy in jou vrye tyd wanneer jy nie besig is met een of ander sportsoort nie?

A: Ek gaan speel graag tenpin bowling of gaan eet sushi saam met my vriende.

V: Wat is jou advies aan jonger seuns wat jou bewonder?

A: Jy moet ‘n visie vir jouself hê sodat jy iets het om na te streef en voor te werk. Ek stel byvoorbeeld weekliks vir myself nuwe doelwitte wat ek graag wil bereik. Wanneer jy hierdie doelwitte begin bereik en resultate begin sien, wil jy nie ophou nie, ek belowe!

V: Hoe het jy so baie Instagram-navolgers gekry en is dit vir jou belangrik om baie navolgers te hê of baie “likes” op ‘n foto te kry?

A: Aangesien ek verskeie borgskappe het by verskillende organisasies, is dit vir hulle belangrik dat ek hulle adverteer en aktief is op sosiale media sodat ek hulle handelsmerke kan adverteer. Die belangrikste aspek van hoe om enige borgskap te kry gaan maar oor hoe aktief jy op sosiale media is.

My navolgers het begin toeneem vandat ek my USN-borgskap ontvang het, en vandaar het dit net aanhou groei en meer organisasies het my begin borg.

V: Wat is iets wat jou navolgers dalk nie van jou geweet het nie?

A: Ek is ‘n natuurliefhebber en mal oor diere, veral honde, hasies en perde.

V: Wat is jou planne vir na skool en jou drome vir die toekoms?

A: Ek sal na skool graag wil voortgaan met my rugbydroom en ek wil ook graag sportsielkunde gaan swot.

Waaroor gons dit in die gange?

Megan Saaiman

Waaroor giggel en gesels leerlinge deesdae op die Helpie-stoepe?

Is dit oor die nuwe flieks wat uitkom, die styl van die nuutste mode giere, onlangse liedjies of sommer net oor skandalige stories wat in die media verskyn?

Die Helpie-modeparade en al die glins en glans wat daarmee saam gaan “trend”. Die stoepe gons met die vele raaiskote oor waar die jaar se geheimsinnige modeparade dalk mag wees en oor die rokke en pakke wat die modelle gaan dra. 28 Maart is definitief #trending.

Nog nuus op die stoepe is die manne van die #VirsekerBekerRugby. Na uitputtende proewe is spanne gekies en wen strategieë word nou uitgewerk. Elke span is reg om hul beste te gee en teenstander na teenstaander te klop om die titel as Virseker Beker Wenners te verwerf.

‘n Paar nuwe gunstellinge op die Helpie-klankbaan is die nuwe liedjie van Early B en Jack Parow, Potte! Al is dit skool toe, of interhoër toe, is hierdie liedjie ‘n moet wanneer dit by musiek kom. Nog ‘n #musiekvibe is natuurlik “Can you English please” deur Faaschbankler. Al kan jy nie Duits praat nie, is hierdie liedjie ’n goeie manier om rond te bons saam met jou vriende.

#M2closure is natuurlik die ander gier waaaroor die Helpies gons… In egte Helpie-styl laat die Bruin Reus op die Bult nie toe dat padwerke hulle onderkry nie. Kreatiewe planne en ‘n bietjie rondskuif van roosters en almal is terug op spoor.

Instagram kraai koning

Anika de Beer

Dit klink vergesog, maar daar is tans ongeveer 3.2 miljard aktiewe sosialemediaverbruikers ter wêreld. Instagram en Snapchat is die twee grootste sosialemediaplatforms wat deur tieners gebruik word. Internasionale navorsing deur Pew Research Centre in Amerika toon dat ongeveer 71% van tieners meer as een sosialemediaplatform gebruik en dat 52% van tieners Instagram en 41% Snapchat gebruik.

Instagram is in 2010 geloods en het oor ʼn tydperk van agt jaar een miljard gebruikers gewen. Instagram se sukses kan waarskynlik daaraan toegeskryf word dat dit so maklik is om te gebruik. ʼn Mens kan vinnig ʼn vakansiefoto of selfie deel wat dan deur enigiemand op ʼn profiel gesien kan word, tensy mens spesifieke profielbeperkings opstel. So kan tieners eendag terugkyk na onvergeetlike herinneringe met familie en vriende. Instagram het egter ook sy risikoʼs – as ʼn mens nie mooi dink voor ʼn foto geplaas word nie, kan ongewenste fotoʼs met die wêreld gedeel word. Een van die nadele van Instagram is dat dit ʼn mens se maandelikse datagebruik vinnig kan opjaag. Boonop kan gewildheid en selfwaarde verkeerdelik gekoppel word aan die hoeveelheid “likes“ wat ʼn persoon kry.

Snapchat is populêr onder tieners omdat fotoʼs of boodskappe direk na mekaar gestuur kan word en omdat die boodskap verdwyn nadat dit gelees is. Daar is verskeie filters wat op fotoʼs geplaas kan word om dit meer interessant te maak en dan is daar ook daaglikse stories wat na 24 uur verdwyn. Nes Instagram, kan jy jou vriende laat weet wat jy doen of waar jy is. Daar is geen rekord van die fotoʼs of boodskappe wat tussen vriende gestuur word nie.

In ʼn blitspeiling onder Helpies wen Instagram loshande as die gewildste sosialemediaplatform. Marie-Louise Theron, ʼn graad 9-leerder, stem saam dat Instagram koning kraai omdat dit vir haar lekker is om fotoʼs met haar vriende te deel en te gaan kyk wie almal kommentaar lewer op haar maats se Instagram-plasings. Sy reken Snapchat is nie so gerieflik nie omdat fotoʼs wat deur haar vriende gestuur word, slegs vir vyf tot tien sekondes sigbaar is.

Instagram en Snapchat het albei hul eie voor- en nadele. Mits dit op ‘n veilige manier gebruik word, kan dit ʼn mens se insig in die wêreld verbreed.

Volgens ʻn blitspeiling gedoen onder Helpies is sake redeliik gelykop met Snapchat wat verkies word met 56% teenoor 44%

Nice se spyskaart bied iets vir elke smaak.

Nice is die ene lekkerte

Marié Mouton

Op die hoek van Parkhurst se bedrywige Vierde Laan is ‘n koffiewinkel wat goed by sy naam pas. In ‘n buurt bekend vir sy smaaklike eetplekke is, Nice on 4th, al vir meer as tien jaar ‘n suksesvolle ontbyt-, middagete- en partytjiegasheer.

Die vintage-dekor wat ‘n gerusstellende atmosfeer skep, maak dié koffiewinkel so besonders. Die spyskaart is ook nie ‘n uitsondering nie en spog met smullekker geregte. Die eiermandjie en plaatkoekies word sommer saamgeflans in ‘n dis, toepaslik genome, “Half & half”- die ideale keuse vir diegene wat nie kan besluit tussen die sagte eiers met repies spek (pragtig voorgesit in die vorm van ‘n blommetjie) en die plaatkoekies met kaas, spek en goue stroop nie. Die bantingmandjie is weer bekend vir ‘n geurige hollandaisesous en die Franse roosterbroodkolwyntjie is beslis nog ‘n opsie waarmee ‘n mens nie sommer verkeerd kan gaan nie.

Die middagete-opsies volg kort op die ontbytspyskaart se hakke met meer tradisionele panini’s, pastas en varsgebakte pasteie met ‘n geurige reuk wat die hele eetplek vul. Die varsgedrukte sappe rond ontbyt of middagete perfek af.

Hierdie pragtige koffiewinkel is ook die plek vir daardie spesiale partytjie, veral ‘n “high tea”. Daar is ‘n aparte spyskaart met besonderse happies vir sulke geleenthede, insluitend al die soorte koek waarvan jy kan droom en nuwe teegeure waarop jy dadelik verlief sal raak.

Maak beslis ‘n draai by hierdie verruklike trefferkoffiewinkel waar jy kan ontspan in ‘n rustige deel van hierdie bedrywige straat.