22.78° Clouds
Kies jou weergawe:

Oud-helpie speel baan aan die brand

Danielle Brink

Oud-Helpie, Nicole Amiras, wat tydens haar skoolloopbaan Helpmekaar onder meer in Singapoer en Maleisië verteenwoordig het, is onlangs opgeneem in die Gauteng Golden Fireballs-netbalspan. Hierdie span neem deel aan die Brutal Fruit Premier-netballiga teen spanne van regoor Suid-Afrika.

Nicole het in 2015 gematrikuleer en het vir drie jaar aan die Noord-Wes Universiteit gestudeer. Daarna het sy na die Universiteit van Pretoria geskuif omdat sy op die netbalbaan raakgesien is. Sy is tans besig om met haar Onderwysgraad.

Me Linda Peacock, wat Amiras se o.16-afrigter by Helpmekaar was, is nie verbaas dat Amiras tussen 70 ander spelers by die Golden Fireballs-proewe raakgesien is nie. “Nicole is een van daardie sportvrouens wat ‘n hoë sport-IK het en dit dra ook by tot haar sukses, omdat sy kan voorspel wat die ander span gaan doen en waar daar moeilikheid gaan kom,” sê Peacock.

Amiras se raad aan netbalspelers is: “Moet nooit ophou werk nie. As jy voel dat jy nie goed genoeg is nie, sit ekstra werk en tyd in. Moet nooit ophou droom nie, werk vir dit wat jy wil hê. As jy hard werk, gaan jy definitief jou doelwitte bereik.” Amiras droom groot en wil graag eendag oorsee in Protea-klere vir Suid-Afrika op die baan uitdraf.

 

 

 

Chanell Landman

Ruitersport, of perdry, is iets wat deur boere op hulle plase, tot die rykste hoofuitvoerende beampte en koninklikes geniet word. Perdry is ‘n verstandhouding tussen mens en dier wat al eeue lank as vervoermiddel gebruik word. Maar ruitersport is ook ‘n Olimpiese sport. Tydens die Olimpiese spele ding mans en vroue op gelyke vlak met mekaar mee. Medaljes word aan beide die ruiter en sy perd toegeken. Die items sluit in: dressuur (gehoorsaamheid en bewegings, ook genoem dressage), spring (oor hindernisse) en ‘n driefasekompetisie. Helpmekaar het hul eie span ruiters en die span het verlede jaar die skole-liga gewen.

Taylya Grant (gr.12) het al haar hele lewe lank ‘n passie vir díe spogdiere en verkies enige tyd vier hoewe bo vier wiele. “Dit bied net iets anders. Die oomblik wat jy op daai perd sit, verdwyn alles anders en julle is in ‘n wêreld van julle eie,” sê Grant.

Carami van der Vyver (gr.11) beskryf perdry as ‘n geleentheid om haarself te wees en kalm te raak. Sy sê: “Dis die ideale geleentheid om ‘n sport te doen terwyl jy tyd spandeer saam met diere.” Van der Vyver sê ook dat daar verskeie voordele van ruitersport is soos om geduld en deursettingsvermoë te leer en dit is ‘n stresverligter.

Liezl Venter (gr 12) sê: “Perdry is ‘n leefstyl wat mens aangryp.” Sy dink dat perdry so gewild is omdat mense besef hoe spesiaal dit is om ‘n band met so ‘n groot dier te hê. Sy sê ook: “Die kompetisies is baie pret en dit maak mens half trots om rond te ry met Helpmekaar se kleure.”

 

 

Moné Rossouw

Netbal by Helpmekaar Kollege het oor die afgelope vier jaar merkwaardig gegroei. Die resultate van die jaarlikse GSS-kampioenskappe (Gauteng Schools Netball) getuig hiervan: twee van die A-spanne, die o.14’s en o.16’s behaal onderskeidelik ‘n eerste en ‘n tweede plek, wat hulle laat deurdring na die SA-kampioenskappe. Die o.15’s, met ‘n vyfde plek, dring ook deur. Me Louise Hatting, netbalorganiseerder, sê: “Die netbal het hierdie jaar ongelooflik hard gewerk. Ons het nog nooit tevore so hard gewerk nie. Ure en ure is ingesit.” Sy getuig ook daarvan dat ‘n Groter Hand van genade betrokke is by die netbal.

 

“Die Helpmekaar-netbalmeisies is werklik amazing. Daar is ‘n deurlopende ondersteuning, omgee en liefde onder mekaar,” sê Nicolette Bezuidenhout (gr.12), kaptein van die eerstespan en lid van die o.18 SA-skolespan.

 

Daar was natuurlik ook struikelblokke. Oor die algemeen is die grootste uitdagings aan die begin van ‘n seisoen die aankondiging van die nuwe spanne. Die meeste van die jonger spanne bly min of meer dieselfde, maar daar is die graad 8’s en natuurlik ook die eerstespan wat nuwelinge by kry. Jenna Beukes (gr.11) wat vir die eerste keer die eerstespan verteenwoordig, vertel dat daar aan die begin bietjie van ‘n skeiding was tussen die juniors en seniors. Die probleem is egter vinning aangespreek deur die afrigters, gevolglik het die spelers mekaar ook beter leer ken en verstaan deur die loop van die seisoen. Jenna erken dat hul ontgroening ‘n noodsaaklike tradisie is wat bygedra tot die oorkoming van dié probleem: “Die ontgroening het ons op ‘n manier nader aan mekaar gebring, omdat daar wedersydse respek tussen die spanlede is, maak nie saak hoe oud ons is nie.”

 

Tesame met hul verdraagsaamheid, is harde werk ook deel van hul resep tot sukses. Elke lid van die eerstespan is by elke oefening, ten spyte van ander buitekurrikulêre verpligtinge. Jenna erken dat die span se toewyding tot hierdie oefentye, oggend, middag of aand, bydra tot hul sukses. Dit wys beslis in die feit dat hulle hierdie jaar baie meer voorbereid was vir die Gauteng-toernooi waar die eerstespan ‘n sesde plek behaal het.

 

“Die lekkerste was dat ons altyd sonder drama kon saam lag, en soms ook kla, oor dinge in ons lewe. My spanmaats het diep in my hart ingekruip,” erken Nicolette. Die geheim is egter nie net dat hulle baie hard werk en gefokus is nie, maar ook mekaar as mede-Helpies ondersteun en respekteer.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Marnique Hibbert

Elke Aprilvakansie het ‘n groep van ongeveer 50 Helpmekaar-matriekleerlinge ‘n baie besonderse afspraak met Namibië. Dit is dan Groenklubtyd. Stadslawaai en blink liggies word agtergelaat en verruil vir avonture van’n ander aard waarvan rus, vrede en ‘groen’-dink die hoofbestanddele is.

 

Die toer wat van 23-30 April plaasgevind het, het begin by die Augrabiese watervalle. Die volgende op die lys was Vioolsdrif waarna leerders se roei-avontuur op die Oranjerivier begin het.

 

Die Groenklub is al vir langer as 20 jaar deel van die Helpie-tradisie. Aanvanklik het dit begin as ‘n opvoedkundige toer vir Geografie-leerders, maar die klem van die toer het deur die jare verskuif. “Ek het besef dat daar ‘n behoefte is by die stadskinders vir ‘n geleentheid om net stil te word. Groenklub gee vir die leerders nog ‘n dimensie om te beleef,” sê Me Linda van Niekerk wat al 10 jaar betrokke is by die Groenklub. Matriekleerlinge kry die geleentheid om werklik net te ontspan, stil te word en die natuur ten volle te geniet.

 

Leah Myburg (gr.12) vertel: “Die spesiaalste ding van die toer was dat ‘n mens werklik net kan afskakel en wegkom van die realiteit.” Die vraag is egter of Groenklub jou regtig leer om ‘groen te wees’? Tamsyn Taylor (gr.12) sê: “Beslis! Die dam is jou bad en jy kan werklik net gebruik wat tot jou beskikking is.”

 

“Die liefde vir en die bewaring van ons planeet behoort by elke Helpie ingeskerp te word,” meen Annabelle Swarts (gr.10). “Ek wil ‘n verskil maak omdat klimaatsverandering en plastiekbesoedeling ‘n globale krisis is wat min mense ernstig opneem,” sê Swarts. Sy het ‘n hele rits idees om Helpmekaar ‘n groener plek te maak, maar wil heel eerste plastiekstrooitjies by die skool verban.

 

 

Nikolas Germishuysen

Dameon Venter, wat in 2017 nog vir Helpies uitgedraf het, is in 2018 verkies tot die Junior Springbokspan, wat onlangs deelgeneem het aan die Junior Wêreldbeker. Nikolas Germishuysen het per e-pos met Venter gesels.

 

V: Wie is die belangrikste mense in jou lewe?

A: Sonder twyfel my familie. My pa het definitief die liefde vir rugby in my aangevuur en met die ondersteuning van hom, my ma, my broers en my susters is dit moeilik om nie gemotiveerd te bly nie.

V: Wat beskou jy as die grootste deurbraak in jou rugbyloopbaan?

 

A: Ek sou sê dit was toe ek die geleentheid gekry het om my rugbyloopbaan by die Xerox Lions te begin en na die seisoen as die speler van die jaar aangewys is.

V: Wat was die laagtepunt van jou loopbaan en hoe het jy dit oorkom?

 

A: As ‘n rugbyspeler gaan mens deur baie goeie én slegte tye. Maar dit is deel van die sport en ‘n mens moet aanpas by jou situasie. Ek sou sê die laagtepunt was toe ek destyds nie vir die SA-skolespan gekies is nie. Die terugslag het my forseer om introspeksie te doen en te begin werk om my volgende doelwit te bereik.

V: Wie inspireer jou?

 

A: My pa is vir my ‘n groot inspirasie.

V: Hoe lyk jou daaglikse roetine?

 

A: Sedert November laas jaar is ek in Stellenbosch ter voorbereiding vir die Wêrelbeker. Daar was drie rugbykampe as siftingsproses vir die finale span. Elke dag het ons ses-uur opgestaan en ons roetine was die volgende: strekke en aktivering, binneshuise sessie vir vaardighede, ontbyt om agt-uur, spansessie waar ons gesels oor die komende veldsessie en wat van ons verwag word, veldwerk vir twee ure, ‘n swembadsessie om te herstel, ‘n paar uur af vir middagete en rus,’n skrumsessie, ‘n uur in die gimnasium, stort en aandete en daarna moes ek studeer vir ‘n paar uur .

 

 

V: Hoe balanseer jy jou studies en ‘n rugbyloopbaan?

 

A: Ek studeer BCom (Algemeen) by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) en werk doelgerig om graad te vang terwyl my rugby aan die gang is. Met die hulp van Wits en SA Rugby het ek meer as genoeg ondersteuning. Ek kan steeds studeer, maak nie saak waar ek myself bevind nie. Dit verg egter baie harde werk om gedissiplineerd te bly en my deel te doen. Ek volg ‘n roetine waar ek daagliks ‘n paar uur uit my dag vat om te studeer.

V: Het jy enige raad vir jong rugbyspelers?

 

A: “Be a sponge for information” en “Be coachable”

V: Is daar ‘n spesiale meisie in jou lewe?

 

A:  Ja, daar is ‘n spesiale meisie aan my sy en sy het ‘n baie positiewe uitwerking op my lewe.

 

Marnique Hibbert

Hierdie jaar se atletiekseisoen het weereens getuig van die Helpie-atlete se harde werk en deursettingsvermoë.

Tydens die Gauteng skole-kampioenskappe te Pilditch-stadion op 8 en 9 Maart kon Helpmekaar spog met elf atlete wat medaljes verower het. Dubbel goue prestasies is behaal deur Cara Bronkhorst (D\15 Verspring en Driesprong) en Megan Starbuck (D\17 100m Hekkies en 200m). Boonop is Megan beloon met ʼn nuwe Gauteng skole-rekord in die 200m-wedloop. Gené Coetzee, wat ʼn brons medalje verower het (D\17 3000m) tydens dié byeenkoms, vertel: “Dis moeilik om in jou item te presteer sonder deursettingsvermoë en totale toewyding aan jou item. Gené het ook gekwalifiseer om aan die Wêreld Landloopkampioenskappe deel te neem wat in Maart in Denemarke plaasvind.

Op 23 en 24 Maart het vyf Helpies trots op die podium gestaan tydens die Suid-Afrikaanse skole-kampioenskappe in Port Elizabeth. ʼn Trotse mnr. JP van der Merwe verduidelik waarom dit so ʼn besondere prestasie is: “Slegs die beste drie atlete in elke item kan by Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deelneem en Helpmekaar vorm deel van ʼn baie groot distrik. Om soveel Helpie-atlete in die span te kon sien, is wonderlik.”

Sowel Meneer J.P. as die atlete is dit eens: Atletiek is ʼn sport wat baie dissipline en harde werk verg. Simoné de Wet, (D\15) ʼn brons- en silwermedaljewenner by S.A.’s, voeg nòg twee vereistes by: opoffering en geloof.

Helpies, ons is saam met julle trots op julle prestasies. Ons waardeer elke druppel bloed, sweet en trane wat gesorg het vir Helpie-magic op die baan.

Helpies behaal derde plek by goue liga

Karla Jonker

Die Goue Liga Swemgala is iets waarna die Helpies elke jaar uitsien. Na die opwinding, die pragtige swem en natuurlik die Helpie Gees. Op Donderdag die sewende Februarie het die Goue Liga, soos elke jaar, by Helpmekaar Kollege plaasgevind. Die skole wat deelgeneem het was: Helpmekaar, Deutche Schule, HeronBridge College, De La Salle, Reddam House, Redhill, St. Peter’s College en Trinityhouse. Waarvan Helpmekaar derde, HeronBridge tweede en Redhill in die eerste plek geëindig het.

Die Goue Liga is naas die Swem Interhoër een van die belangrikste swemgalas waaraan die Helpies deelneem. Dit is ‘n geleentheid vir die swemmers om te wys waarvan hul gemaak is, maar ook vir die res van die Helpies om die swemmers te ondersteun en ‘n stukkie van hulle wêreld te beleef. Die swemafrigters hou die swemmers natuurlik met valkoë dop om plekke en spanne te finaliseer.

Hierdie jaar het die weer besluit om ‘n draai te maak en het daar ‘n heerlike bui reën oor Helpmekaar uitgesak. Dit was net nog ‘n geleentheid om te wys dat Helpies nie nat reën of koud kry nie aangesien die skool aanhou ondersteun het op die oop pawiljoen in die druppels.

Volgens juffrou Adelia Murray, swemorganiseerder, is die Goue Liga ook belangrik omdat die swemmers hier die geleentheid kry om in die kollig geplaas te word en hul talente op so ‘n gewilde dag ten toon te stel. Dit wys vir skole en toeskouers van buite dat swem ook ‘n ernstige, gewilde sport is by Helpmekaar en moedig jonger leerders wat in swem belangstel aan om Helpmekaar as ‘n keuseskool te oorweeg.

Juffrou Murray beskryf haar swemmers as lewendige, lojale kinders wat altyd inspring (letterlik) om ‘n helpende hand te verleen waar hulle kan.

Blitsflitse

Anja Steyn

Muurbalspelers druk hul stempel af

Van links na regs agter staan: Ruan Botha, Luan Pettit, RW Pettit, Henry van Staden en Alix du Plessis. Voor staan: Danel Maritz.

Op 17 Januarie 2019 het die dogters-muurbalseisoen afgeskop en het die eerstespan vroegtydig hul stempel op die liga afgedruk deur hul eerste wedstryd van die seisoen teen Roedean 14-0 te wen. Die 0/16-span, bestaande uit Megan Saaiman, Shani McLea, Danica van der Merwe en Anneke de la Rey, het hulself reeds bewys as ‘n dinamiese span en het drie van hul vier wedstryde gewen. Buiten die kompeterende liga, is muurbal ook ‘n sosiale sport wat talle Helpies geniet. Volgens Carmen Smith, gr.11, is muurbal een van die lekkerste sporte in die skool. “Dit word baie onderskat.”

Elf Helpies het vanaf 10-12 Maart deelgeneem aan die Central Gauteng Open Graded-toernooi by Western Rackets in Roodepoort. Baie geluk aan Alix du Plessis (seuns 0/19) wat algeheel 3de geëindig het. Danel Maritz (dogters 0/19), Danika van der Merwe (dogters 0/16) en Dean Botes (seuns 0/14) eindig 4de in hul onderskeie ouderdomsgroepe.

Bergfietsryers gaan groot

Die helpie-bergfietsryers is reeds hard aan die oefen en het al in Januarie begin deelneem aan Helpmekaar se eie bergfietsrytoernooi.

Op 18 April 2019 neem die Helpie-bergfietsryers deel aan die eerste byeenkoms vir die 2019 Spur Schools-Bergietsryliga met die oog om op 27 en 28 September aan die nasionale kompetisie deel te neem. Die Helpie-bergfietsryers is reeds hard aan die oefen en het al in Januarie begin deelneem aan Helpmekaar se eie bergfietsrytoernooi. Robin du Plessis, gr. 11, is van mening dat bergfietsry ‘n sport is wat baie bevredigend is en dat die spangees aansteeklik is. Sy sê verder dat alhoewel elke deelnemer die resies op sy of haar eie aanpak, die deelnemers steeds ‘n span vorm. “Bergfiets is iets lekker wat jy op ‘n Saterdagoggend saam met jou vriende kan doen.”

Oriëntering hou koers

Ywerige otriënteringsdeelnemer, Ryno Grove (gr.11)

Op 4 Maart 2019 het Helpmekaar se oriënteringspan eerste in die amptelike liga geëindig. Meghan Hattingh het ‘n algehele vierde plek in die senior-dogtersafdeling behaal terwyl Ruan Mackridge ‘n derde plek behaal het in die senior-seunsafdeling. Oriëntering is ‘n sport wat oor die afgelope paar jaar gegroei het by Helpmekaar Kollege. Hierdie sport behels dat deelnemers ‘n kompas benut en sekere koördinate gebruik om verskillende kontrolepunte af te merk. Volgens Mia Bronkhorst, lid van die oriënteringspan, is oriëntering ‘n sport wat nie baie oefening verg nie, maar wel baie pret is. Sy vertel verder: “Die sport help ook baie met jou navigasie in ‘n alledaagse lewe.”

Helpie-tennissterre skitter

Nikolas Germishuysen  

Helpies se tennisspelers was omtrent besig die afgelope tyd en het een prestasie na die ander ingepalm.

Tydens die vakansie het Isabella Venter in Port Elizabeth by die Growthpoint Super 8-toernooi ’n sewende plek verwerf, nadat sy met ‘n beseerde enkel in die Kaapstad-toernooi vroeg moes onttrek. Anique Engelbrecht dring in twee toernooie deur na die dubbels-halfeind en dubbels-finaal.

Die International Tennis Federation (ITF) -toernooi is ‘n gesogte toernooi waar bykans 30 wêreldwye toernooie per maand gespeel word. Anique Engelbrecht het in Desember in Noorweë deelgeneem aan twee ITF- toernooie en in albei die top 16 behaal en een ronde in die dubbels deurgedring. In die onlangse ITF- toernooi in Potchefstroom het die meisies ook nie teruggestaan nie. Anique het hier deurgedring tot by die top 16, terwyl Jessica Portwig in die dubbels-finale geëindig het en as naaswenner uit die stryd getree het. Isabella Venter het in die eerste ronde met ‘n Switserse meisie afgereken en so gekwalifiseer vir die hoofpoel.

Die agste gekeurde Mieke van Deventer wen haar eerste ITF enkels-titel. Daarna het sy, as ongekeurde, in ‘n graad-3-toernooi in Pretoria in die kwarteindronde verloor. Dit is voorwaar ‘n uitmuntende prestasie.

Drie van ons spelers het in Februarie by die Interpro Sentraal Gauteng skoleproewe die Gauteng skolespan gehaal. In die 0/19 A-span het Isabella Venter ‘n tweede plek verwerf en Mieke van Deventer ’n derde plek. Rueben Herbst het‘n sesde plek in die o/15 A-span behaal.

Die helpie-atletiekspan bid voor die begin van die interhoër. Foto: Danielle Heyneke

Shane Lotriet

Op 27 Februarie 2019 het die Helpies soos een man aan die jaarlikse super-interhoër by die Ruimsig stadion deelgeneem. Die atlete van Helpmekaar het daarin geslaag om ʼn vierde keer die wennerstrofee vir die A-bond omhoog te hou en boonop voor die tuisskare van vanjaar se naaswenners, Prestige Kollege. In die voorafgaande twee jare moes die Helpies die knie buig voor die atlete van Prestige Kollege.

Helpmekaar het vanjaar hierdie oorwinning met 23 goue, 26 silwer en 22 brons medaljes behaal. Die gr. 8’s van Helpmekaar het ʼn treffende eerste indruk gemaak toe Zanique Swanepoel met ʼn tyd van 12.23 sekondes tweede geëindig het in die 100m-naelloop. Daarmee het sy 1 057 punte volgens die ABSA-tabel verwerf. Zanique het later ook ʼn goue medalje in die 200m-naelloop verwerf met ʼn tyd van 25.34 sekondes, wat aan haar ʼn puntetal van 1 051 besorg het.

Vroegoggend was dit al duidelik dat die meer as duisend Helpie-ondersteuners weer eens die berugte temperature wat die interhoër elke jaar kenmerk, sou moes trotseer toe die kwik tot 30˚C gestyg het.

“Wat hierdie wen vir my besonders maak, is die feit dat hierdie jaar se matrieks in 2015 as gr. 8’s kon beleef hoe Helpmekaar die interhoër wen, en vier jaar later wéér die voorreg het om die oorweldigend trots te voel,” sê Josh Stockigt, atletiekkaptein en matrikulant.

Op 6 Maart 2014 het Helpmekaar geskiedenis gemaak deur vir die eerste keer as wenners van die A-bond aangewys te word met ʼn oorwinning van 56 punte oor die hoërskool Monument. In 2015 vergroot Helpmekaar die punteverskil tot 78 met Monument steeds in die tweede plek.

Kempton Park het egter in 2016 die oorhand oor Monument gekry en sodoende die posisie van naaswenners ingeneem. Helpmekaar is toe vir die derde agtereenvolgende jaar as wenners aangewys. In hierdie jaar het Prestige Kollege die eerste keer die B-bond gewen.

In 2017 het die atletiekwiel egter gedraai toe die nuwelinge, Prestige Kollege, met hul eerste deelname aan die A-bond vir Helpmekaar met ʼn aansienlike punteverskil van 105 na die tweede plek laat skuif het ‒ ʼn prestasie wat hulle in 2018 herhaal het.

Die opwinding het dus behoorlik na vanjaar se byeenkoms opgebou.

Josh Stockigt se eweknie, Xanté de Klerk, beskryf die dag soos volg: “Asemwrowend. Dis al wat ek kan sê.”