22° Clear
Kies jou weergawe:

Eiers, eiers en nog eiers

Anika de Beer

 Pablo Eggs-Go-Bar in Melville is ‘n unieke eetplek wat, soos die naam aandui, met eiers kan toor. Hierdie restaurant neem die bestanddeel wat so sentraal is tot ‘n hartlike Suid-Afrikaanse ontbyt, die eier, en bedien kreatiewe variasies daarvan. Roereiers, omelette, gekookte eiers, noem dit… Elke dis bevat eiers, maar nie een proe dieselfde nie.

Die eienaar, Louis Roux, kyk gereeld na nuwe interessante maniere om eiers te gebruik om smaaksensasies te skep wat jou laat hunker na meer. Die topverkopers op die spyskaart is die Rooi Shakshuka (‘n kombinasie van eiers, tamaties, paprika en speserye), Tamatiebolletjies met ‘n parmesaanroomsous, ‘n Lam- en mintburger met gebraaide skyfies, en die Malawa ( ‘n tipiese Yemen pannekoek).

Die naam “Pablo Eggs-Go-Bar” sinspeel op Pablo Escobar, die berugte Colombiaanse dwelmhandelaar van die tagtigter jare.

Roux sê dat hy vir jare lank die idee gehad het om ¢n restaurant oop te maak, maar nooit gedink het dat sy droom sou bewaarheid word nie. Nadat sy sanggroep, Shadow Club, ontbind het, het sy goeie vriend, Paul Moneta, ‘n grap gemaak toe Roux vir hom vertel het hoe baie eiers hy gebruik per week. Hy het gesê: “You will deal eggs like Pablo Escobar!” Dit is toe dat Roux besluit het om ‘n restaurant met die naam Pablo Eggs-Go-Bar oop te maak.

Pablo Eggs-Go Bar het nie net ‘n slim naam en interessante spyskaart nie, maar daar is ook  ‘n lekker atmosfeer en die dekor is modern. Die restaurant is baie gewild vir vroeg- of laatoggendontbyt en is vanaf 6:30 in die oggend oop. Gaan besoek gerus Pablo Eggs-Go-Bar in 7de straat in Melville en loer sommer terselfdertyd na al die oulike winkeltjies wat in die kleurvolle 7de straat geleë is.

 

 

Helpmekaar Rocco se nuwe BFF

Karla Jonker

Die bekende pianis, Rocco de Villiers, is nie net deel van die vriende van Helpmekaar nie.  Hy beskou Helpmekaar as sy nuwe BFF na afloop van die jaarlikse modeparade wat vanjaar by die eksklusiewe Rand Club in Johannesburg plaasgevind het.

Helpmekaar Kollege se modeparade is elke jaar ‘n spoggeleentheid waarin graad 11 en 12-leerders pronk as modelle vir Suid-Afrikaanse modeontwerpers. Ander senior leerders is op hul beurt kelners tydens die verigtinge.

Met De Villiers op die klawers en Lizelle le Roux op viool, het hulle die musiek gemaak waarop die modelle die uitrustings ten toon gestel het. “Dit was ‘n eerste en dit was fantasties! En ‘n hoogtepunt as deel van die viering van my 20-jarige loopbaan. Die idee het van die organiseerders gekom,” vertel De Villiers. Van die Helpie-modelle het geloop in sý twintig gunsteling kostuums van die laaste twintig jaar van sy loopbaan. “Eerstens moet ek noem dat dit niks met mode uit te waai het nie. Dit is dikwels idees wat ek gehad het of iewers gesien het, dan na ‘n ontwerper geneem het en gevra het om dit ‘n Rocco-kwaliteit te gee. Al die ontwerpers is Suid-Afrikaans, aangesien ek daarin glo om plaaslike talent te ondersteun.”

De Villiers se styl word gekenmerk aan sy oorspronklike uitrustings en die swierige blom wat deel daarvan uitmaak. Dié blomme maak nie net ‘n impak nie, maar het ook ‘n dieper betekenis: “Die blom op al my uitrustings is ‘n ode aan my ma wat in 2010 oorlede is. Sy was ‘n statige vrou en het nooit die huis verlaat sonder ‘n mooi uitrusting wat altyd afgerond was met ‘n reuse blom op die skouer nie. Vandaar die idee wat ook intussen deel van my verhoogidentiteit geword het.”

Volgens De Villiers was 2019 se Helpie-modeparade ‘n reuse sukses en nog ‘n diamant in Helpmekaar se kroon. “Dit was stylvol, baie gepas vir die Rand Club en ‘n enorme sukses. Lizelle, my vioolspeler, en ek het onsself baie geniet. Daar was meer blomme as by ‘n staatsbegrafnis – maar dit het bygedra tot die swierigheid van die geleentheid. Die modes was mooi, maar ek dink daar was ruimte vir meer kleur en dalk ‘n kategorie met sport- of selfs swemklere. Dan sou hulle [die gehoor] nog harder gegil het!”

Take a break en vind jouself

Marié Mouton

Helpmekaar Kollege se jaarlikse Getaway-kamp het hierdie jaar ‘n splinternuwe byvoeging gekry. Die take a break-kamp het plaasgevind by Rocky Valley Christian Camp vanaf 2 tot 3 Mei. Tydens die kamp was daar ‘praise and worship’-sessies en gesprekke waar uitdagende, relevante geloofsvrae hanteer is. En volgens Ruan Mackridge (gr.12) was die twee dae letterlik “‘n breek van alles”.

Josh Stockigt, ‘n matriekleerder en bestuurslid van Time Out, sê die twee dae was kort, maar kragtig en ‘n goeie inspuiting na ‘n lang en uitmergelende eerste termyn. Die kamp se spesifieke tema was om jouself beter te leer ken, om ‘n ruskans te vat van die gejaagde wêreld daar buite en om inwaarts te fokus op jouself en jou geloof. Vir Koert Kritzinger (gr.12) het die kamp geleer dat jy nie jou eie identiteit in ander moet soek nie. Jy is uniek en moet jou identiteit in jouself vind.

Die boodskap gedurende die twee dae was dat leerders moet leer om meer ontvanklik te lewe, want die Here is altyd naby. Die jeug se aandag word gereeld afgelei deur berge skoolwerk en ‘n vol sosiale lewe. Leerders kan so besig wees dat hulle vinnig onbewus raak van die Here se aanhoudende teenwoordigheid in hulle lewens. Die boodskap was klinklaar: “Soek en vind die Here in jou alledaagse lewe, want Hy is heeltyd met ons.”

Na aanleiding van dié boodskap rig die TimeOut-bestuur graag die volgende uitnodiging aan die mede-Helpies: “Ons is ‘n familie vir die verlore Helpies op soek na hul eie identiteit en die Here. Vir die volgende kamp nooi ons alle “imperfectly perfect” Helpies om sonder verwagtinge saam met ons op ‘n reis te gaan waar jy saam met ‘n hele nuwe familie en ‘n verligte siel kan terugkeer.”

Die lewe van ‘n koshuisbrak

Danielle Brink

Dhané Keevy, koshuishoofmeisie, lig die sluier oor die alledaagse lewe van ‘n Helpie-koshuiskind.

Danielle:         Waar het die tradisie begin dat nie-koshuisleerders nie in die koshuis mag ingaan nie?

Dhané:            Die koshuis is ons “huistoe” weg van die huis af, dit is waar ons bly. Jy sal mos nie by iemand anders se huis instap en hulle badkamer gebruik nie? Dit is die tradisie vir solank as wat ons kan onthou en ons sal aanhou om hierdie tradisie te bewaar.

Danielle:         Het ‘n koshuiskind enige huistake (soos wat mens by die huis miskien skottelgoed moet was)?

Dhané:            Gedurende die week word daar elke oggend deur die matrieks inspeksie van die koshuiskamers gehou. Dit beteken dat jou kamer uitgevee, jou bed opgemaak, asblik uitgegooi en kaste netjies moet wees.

Danielle:         Mag mens jou eie kamermaat kies?

Dhané:            Ja, jy mag, behalwe as jy in graad 8 is omdat niemand mekaar eintlik ken nie. Die graad 8’s word ingedeel.

Danielle:         Hoe kry mens ‘n enkelkamer?

Dhané:            Mnr Cois Wit hanteer alle kamerindelings, so enige versoeke word aan hom gerig. Matrieks kry voorkeur vir die enkelkamers omdat die koshuis redelik vol is.

Danielle:         Is daar enige ander voorregte vir die matrieks in die koshuis?

Dhané:            Ons elkeen het ‘n graad 8-buddy wat basies al die bogenoemde verpligtinge vir ons doen. Senioriteit word, soos by die skool, hoog geag in die koshuis.

Danielle:         Hoe werk koshuis-ontgroening?

Dhané:            Soos by die skool het elkeen van die graad 8’s ‘n matriek-buddy, maar koshuis-ontgroening vind die hele jaar plaas. Hierdie aspek is natuurlik iets wat elke koshuiskind laat uitsien daarna om in matriek te wees.

Danielle:         Mag die meisies en seuns saam kuier in die koshuis?

Dhané:            Ja, ons mag enige plek behalwe in die gange waarin die slaapkamers is, saam kuier. Dus mag ons in die eetsaal, snoepie of TV-kamer kuier.

Danielle:         Is daar enige “socials” in die koshuis en hoe word dit gereël?

Dhané:            Ja, daar is, Jané Coetzer en Hendri Hartzer se koshuisportefeulje is “socials”. Dus reël hulle byvoorbeeld ‘n koshuis-braai eenkeer ‘n termyn waar almal van die koshuis asook hul familie kom braai by die koshuis. Hulle reël ook sokkies waar ons net lekker in die studiesaal al die tafels wegskuif en dans. As matrieks het ons ‘n baie besige skedule, maar ons probeer ons bes om tyd saam met ons koshuisfamilie te spandeer.

Danielle:         Het die koshuis ook ‘n jaarlikse massabunk en hoe werk dit?

Dhané:            Nee, die laaste koshuis-massabunk was net voor ons in graad 8 was (2014), maar ons werk hard daaraan om weer een te probeer reël.

 Danielle:         Indien jy sport- en kultuuraktiwiteite het, hoe kry jy kos en hoe laat moet jy terug wees by die koshuis?

Dhané:            Afhangende van die aktiwiteit, teken jy net uit op ‘n lys en hulle sal dan vir jou uitskep en voorsiening maak.

Danielle:         Watter vorm van motivering het ‘n koshuiskind om akademies goed te presteer?

Dhané:            Ek glo soos enige kind in Helpmekaar moet ‘n leerder dink aan hulle toekoms en wat hulle wil bereik, dus glo ek, selfmotivering en jou ma wat jou herinner om die foon neer te sit, is beslis die antwoord.

 

Helpies gee tyd

Cameron Sharp

Of dit nou is om te speel met peuters en kinders, mure te verf of om gemors op te tel, Helpies het ‘n hartklop vir gemeenskapsdiens. Vanjaar se gemeenskapsprojekte sluit in uitryke na Parksorg, Meals on Wheels en die Animal Anti-Cruelty League (AACL). In die April-vakansie het die vrywilligers ook ‘n draai gemaak by ‘n kinderhuis.

By Parksorg kuier die Helpies met bejaardes en dra soms geskenkpakkies aan. Parksorguitryke vind plaas op sekere Woensdae van die die kwartaal. Volgens Lorraine le Roux, die bestuurder vir maatskaplike werk by Parksorg, word die Helpies se betrokkenheid by Parksorg baie positief deur die inwonders beleef. “Die inwoners en personeel is dankbaar vir die ondersteuning deur leerder, ouers en onderwysers,” sê le Roux.

Me Carien Wessels lei nie net die Parksorg inisiatief nie, maar is ook in beheer van die “Meals on Wheels” inisiatief en het ‘n groot asdrom in haar klas waarin Helpies regdeur die jaar leë plastiekhouers bymekaar maak wat dan verder herbruik word vir voedingskemas.

Die nuwe gunsteling is die AACL-projek waar diereliefhebbers kan teruggee aan troeteldiere.

Helpies het verskeie redes waarom hulle betrokke raak by die gemeenskapsprojekte. Volgens Karla Stumph (gr.11) help gemeenskapsdiens met universiteitskeuring. Tog gaan dit oor meer as dit. Moné Rossouw (gr.11) vertel dat gemeenskapsdiens jou meer bewus maak van wat in jou omgewing aangaan: “Dit bied ook die geleentheid om by te dra tot ‘n gelukkiger samelewing.” Shaun Wilson (gr.11) stem saam: “Die hele doel van gemeenskapsdiens is om minder bevoorregte mense te help, maar ook om die Helpies bloot te stel aan die realiteite van die lewe.” Op haar beurt verduidelik Bernice Viljoen (gr.11) dat sy dink gemeenskapsdiens vir haar meer beteken as vir die mense vir wie sy dit doen: “As iemand anders spesiaal voel, voel ek ook sommer gelukkig.” Josh Stockigt (gr.12) beaam deur een van sy gunsteling aanhalings aan te haal: “The greatest joy we get is by creating joy for others“. Vir Alida de Bruyn (gr.12) gaan gemeenskapsdiens oor eenheid – almal wat saamwerk om ‘n gemeenskaplike doel te bereik. Volgens Johané Fritz (gr.9) is gemeenskapsdiens nodig vir die mensdom. “Dit skep die geleentheid vir mense wat bevoorreg is om vir minderbevoorregte mense terug te gee en dan ook in die proses nederig te bly.”

Marene van Staden, Carami van Der Vyver, Celeste Koekemoer, Nikolas Germishuysen en Moné Rossouw besig om kinderharte in die gemeenskap bly te maak!

Oud-helpie speel baan aan die brand

Danielle Brink

Oud-Helpie, Nicole Amiras, wat tydens haar skoolloopbaan Helpmekaar onder meer in Singapoer en Maleisië verteenwoordig het, is onlangs opgeneem in die Gauteng Golden Fireballs-netbalspan. Hierdie span neem deel aan die Brutal Fruit Premier-netballiga teen spanne van regoor Suid-Afrika.

Nicole het in 2015 gematrikuleer en het vir drie jaar aan die Noord-Wes Universiteit gestudeer. Daarna het sy na die Universiteit van Pretoria geskuif omdat sy op die netbalbaan raakgesien is. Sy is tans besig om met haar Onderwysgraad.

Me Linda Peacock, wat Amiras se o.16-afrigter by Helpmekaar was, is nie verbaas dat Amiras tussen 70 ander spelers by die Golden Fireballs-proewe raakgesien is nie. “Nicole is een van daardie sportvrouens wat ‘n hoë sport-IK het en dit dra ook by tot haar sukses, omdat sy kan voorspel wat die ander span gaan doen en waar daar moeilikheid gaan kom,” sê Peacock.

Amiras se raad aan netbalspelers is: “Moet nooit ophou werk nie. As jy voel dat jy nie goed genoeg is nie, sit ekstra werk en tyd in. Moet nooit ophou droom nie, werk vir dit wat jy wil hê. As jy hard werk, gaan jy definitief jou doelwitte bereik.” Amiras droom groot en wil graag eendag oorsee in Protea-klere vir Suid-Afrika op die baan uitdraf.

 

 

 

Van ‘hoekom ek’ na ‘hoekom nie ek nie’

Cara Kotze

 Mignon van Staden, ‘n stralende graad 10-leerder aan Helpmekaar het ‘n doodgewone lewe gelei tot sy in Julie 2018 nuus ontvang het wat vining haar uitkyk op die lewe verander het.

Van Staden het ondraaglike pyn in haar rug, maag en bene gehad en is eers met Crohn se siekte* gediagnoseer. Maar toe die pyn egter vererger en die pynmedikasie geen verligting bring nie, het haar prognose al hoe slegter begin lyk. Nie lank daarna nie is sy vir bloedtoetse en limfklierkanker** is by haar gediagnoseer.

Van Staden is vir die res van die jaar uit die skool gehou en het chemoterapie-behandeling gekry. Vir maande lank, dag na dag, het sy dapper haar stryd teen kanker gevoer en is tans in remissie. Sy is baie bly om terug by die skool, haar vriende en die Helpies te wees.

Van Staden is ‘n rolmodel met kosbare raad: “Die tyd wat ons op aarde het, is kosbaar. Jy moet WIL skool toe gaan en aktiwiteite doen. Die lewe is regtig kort en baie mense wens net die lewe om terwyl jy eintlik elke sekonde voluit moet leef.”

Sy glo ook dat daar ‘n groter bewustheid oor kanker onder Helpies moet wees. “Mense wat nie goed ingelig is nie, mag geïntimideerd voel deur die siekte én mense wat dit het. Maar op die oud end is ons almal net mens en wil dieselfde hanteer word as enige iemand anders.”

Van Staden vertel dat haar geloof haar deur haar siekte gedra het. “Ek het met God begin praat en op ‘n stadium gevra: hoekom ek? Maar toe besef ek: hoekom nié ek nie?”

*Lees meer oor Crohn se siekte by: https://www.rsgplus.org/gesondheid/crohn-se-siekte-en-dikdermprobleme/

** Lees meer oor limfklierkanker by:  https://www.cancercenter.com/lymph-nodes

 

Het jy geweet?

  • Wêreld-kankerdag word jaarliks op 4 Februarie gehou om bewusmaking te bewerkstellig.
  • Die evaluering van kanker begin met die nagaan van die pasiënt se geskiedenis en ‘n fisieke ondersoek om die dokter behulpsaam te wees om die moontlike risiko-faktore van kanker te bepaal en om te besluit wat die mees aangewese toetse sou wees om ‘n diagnose te kan maak. 

     

    Kanker-simptome:

    Wees op die uitkyk vir:

    Gelerige verkleuring van die vel en/of die wit van die oë wat geel word

    Blou of pers kneusplekke van onbekende oorsprong

    Rooi verkleuring van die vel of plekke wat maklik kneus of die voorkoms van ‘n veluitslag

    Swelsel van die vel wat verkleur het Jeukerigheid Verdikking van die vel En laastens – verkleuring en verdikking van die naels

    Ander algemene tekens en simptome

    Aanhoudende en onverklaarbare gewigsverlies

    Hoofpyne wat met braking mag gepaardgaan

    Vergroting van swelsels in bene, gewrigte en rug

    Knoppe of ‘n massa in die buik, nek, bors, bekken, lies of armholtes

    ‘n Witterige kleur agter die pupil in die oë van kinders

    Aanhoudende naarheid met of sonder braking

    Ongewone verandering van stoelgang of funksionering van die blaas

    Aanhoudende hoes of heesheid Aanhoudende slegte spysvertering, dermkanaal-probleme of slukonvermoë

    ‘n Seer wat nie gesond wil word nie En laastens – enige ongewone bloeding

    Bron: www.cansa.org.za

Oud Helpie gekroon as 2de prinses by Miss Varsity Cup

Oud-Helpie, Michaela Wright, is onlangs as tweede prinses by Miss Varsity Cup gekroon. Sy het met met Jené Becker gesels oor haar deelname en die pad vorentoe.

Vraag: Hoe sal jy die Miss Varsity Cup-ervaring opsom?

Antwoord: Vir my was die ervaring een van persoonlike groei aangesien ek soveel van myself geleer het soos waar my passies lê, wat my sterk- en swakpunte is en waarheen ek eintlik op pad is. n Mens doen baie introspeksie en dis die mooiste deel van die kompetisie jy leer om ander mense te motiveer, aan jou swakpunte te werk en jouself op te bou. Dit was ook n goeie manier om te sosialiseer op kampus en mense te ontmoet wat jy andersins nie sou nie.

V: Wat het jou laat besluit om deel te neem aan hierdie kompetisie?

A: Dit was vir my belangrik om mense te ontmoet en in so n geesdriftige en gesellige omgewing was dit baie maklik. Ek sal graag in die toekoms aan meer skoonheidskompetisies wil deelneem.

V: Watter lesse het jy uit die kompetisie geleer?

A: Dit het my baie van tydsbestuur geleer asook om alles in die lewe ten volle aan te pak, ten spyte van uitdagings. Jy moet nooit probeer om iemand te wees wat jy nie is nie, want mense sien dadelik deur jou. Ek het ook geleer van deursettingsvermoë en om jouself met ander te probeer vergelyk nie, en dit was beslis vir my n moeilike les om te leer.

V: Wat was jou gunsteling afdeling tydens die kompetisie?

A: Al die wenners van die verskillende provinsies is met n langnaweek in die Kaap bederf. Dit was lekker om saam met n groep dinamiese jong dames te kon sit en besluit waarheen ons die kompetisie wou neem en wat ons wou verander om binne die volgende paar jaar n werklike impak te maak.

V: Het jy enige verantwoordelikhede as 2de prinses van Miss Varity Cup?

A: Ja, gelukkig kan jy iets waaroor jy werklik passievol is, kies. Ek is tans besig om n nuwe beweginggenaamd “Worth More” op die been te bring. Die doel is om enige iemand wat benadeel of onderdruk voel en seergemaak is, krag te gee en hulle te wys wat hulle waarde is, ten spyte van hulle verlede en/of omstandighede.

V: Het jy tydens jou skooljare by Helpmekaar Kollege iets geleer wat jou met die kompetisie gehelp het?

A: Dié vraag is een wat my diep raak! Ek het eintlik eers na skool besef wat n groot impak Helpmekaar Kollege op my lewe gehad het en nog steeds het en ek kan met trots getuig dis juis die skool wat my geleer het van deursettingvermoë en vasbyt. Die kere van in die reën staan en sê: “Helpies reën nie nat nie” en “Helpies kry nie koud nie” as die temperatuur -5°C by die Bult is,het my geleer datn mens altyd die beste van jou omstandighede op daardie stadium moet maak.

V: Het jy enige advies vir toekomstige deelnemers?

A: Geniet dit net! Baie keer dink mense jy moet perfek wees, maar jy hoef nie. Geniet dit net om deel te neem en wees vol vertroue in wie en wat jy is, want daar is niks mooier as dit nie. Wees die beste jy wat jy kan wees!

V: Het jou deelname aan die Miss Varsity Cup enige deure vir jou oopgemaak?

A: Inderdaad, ek het die platform wat die kompetisie bied om jou blootstelling te gee aan soveel ander geleenthede waar jy werklik ‘n verskil kan maak en jou passie kan uitleef, onderskat! Ek gaan later in die jaar van my geleenthede op sosiale media met julle deel. Hou dié spasie dop!

 

Verdra die bitter en soek die soet

Shane Lottriet

Eksamens, bitterkoue en produksie – dié is drie woorde wat hierdie tyd van die jaar vir my definitief uitstaan. Hierdie woorde skep nie onmiddellik positiewe gevoelens nie…

Met my was dit ook geen uitsondering nie en ek was vinnig om té dink dat die eksamens te moeilik was, die weer te koud is en dat die produksie lang dae in beslag neem. Eers later het die bittersoet van elkeen vir my duidelik geword.

‘n Moeilike eksamen sal altyd die eksamens daarna bietjie makliker maak. Só is ‘n koue wintersoggend nie altyd meer so koud nie met ‘n koffie wat ‘n vriend in jou hande sit wanneer jy van die bus afklim nie. En vir meer as 200 leerders sal die immeropwindende produksie vanjaar hul laaste wees.

Dit blyk dat die soet en die suur van die lewe altyd hand aan hand loop. Die Flitse het in dié uitgawe sterk menings gehad oor verskeie aktuele kwessies. Twee uiteenlopende reaksies oor Caster Semenya se toekomstige atletiekdeelname word aangebied. Die impak van tegnologie op geloof kom onder die loep. En ons bekyk die goed en die sleg van rekenaarspeletjies.

Verder vertel oud-Helpies ons meer van hul lewens ná hoërskool met ‘n bittersoet ondertoon van verlange terug na hul alma mater. Hulle boodskap is duidelik: Verdra die bitter. Soek vir die soet. Lees ook die berig oor oud-Helpie, Curt van Heerden van die Institution Of Grace, en kyk hoe jy hom kan help om die suur van die lewe ‘n bietjie soeter te maak.

Hierdie winter- en produksie-seisoen, soos vele ander seisoene in mens se lewe, laat my dink aan ‘n bloubessie; die suur smaak kan partykeer jou gesig laat skeef trek, maar terselfdetyd kan dit die soetheid van stroop namaak. Die tema van dié uitgawe, bessieblou, kan dus ‘n blou Maandag ‘n nuwe betekenis gee; en dit kan jou, liewe Helpie, laat wyer en verskillend dink oor dít wat jy lees wanneer jy deur hierdie paragrawe en foto’s van herinneringe blaai.

 

Wat is vir jou bittersoet aan Helpmekaar?

Danielle Brink: “Vanjaar se laaste produksie.”

Nikolas Germishuysen: “Verpligte sportbyeenkomste.”

Karla Jonker: “Die gedagte van my lewe ná hoërskool.”

Jené Becker: “Ontgroening in graad 8.”

Marié Mouton: “Matriek.”

Anja Steyn: “Produksie-oefening in die middae.”