22° Clear
Kies jou weergawe:

Aldone Kok

Aldone Kok gesels met skrywer, akteur, model en eienaar van Life Arts Little Theatre-dramaskool, Louw Breytenbach, oor sy boek, Sê jou sê en wat nog vir hom voorlê.

 

Waarom het jy jou boek, “Sê jou sê” geskryf?

Ek het ‘n voorliefde vir redenaars en ek wou graag op ‘n stap vir stap manier wys hoe om te werk te gaan om toesprake te skryf. Daar is ook volledige voorbeelde van toesprake wat leerders kan gebruik of inspirasie by kan vind. Die boek kan help met klastoesprake en geleenthede waar daar voor mense gepraat moet word.

 

Wat was jou grootste uitdagings om die boek te skryf en hoekom?

Tyd…..om net te sit en jou gedagtes te laat gaan. Omdat die alledaagse lewe so besig is.

 

Wat dink jy van die Afrikaanse letterkunde op die oomblik?

Daar is soveel nuwe digters en skrywers wat die skryfbedryf opkikker.

 

Wou jy ooit opgee terwyl jy “Sê Jou sê” geskryf het?

Nee, want dit was al so lank my begeerte om die boek te skryf…

 

Is daar ander boeke in die vooruitsig?

Ja, ek wil my horison verbreed deur ń kinderboek te skryf.

 

Waarmee hou jy jouself besig as jy nie skryf nie?

Ek hou van lees en ek is baie besig met my dramaskool asook die nuwe program op Via “Drama Mammas”.

 

Wat wil jy nog in die toekoms bereik?

Ek wil graag ń student-uitruilprogram in plek stel waar hoëskool drama-studente na Atlanta, VSA, gaan om aan die vermaaklikheidsbedryf blootgestel te word.

 

Wat is op jou ‘bucket list’?

Ek wil graag na Kanada reis en ek wil my ma vat om te gaan valskermspring vir haar sestigste verjaarsdag. (Vroeër die jaar het Louw sy pa verras met ‘n pa-en-seun-vakansie na Bali vir sy sestigste verjaarsdag).

 

Gaan na die webblad, www.louwbreytenbach.com, vir bestellings.

Lekker ligte leesstof vir die Augustus-vakansie

 

Boek: ‘n Hart vol sand

Skrywer:  Anzil Kulsen

Datum van publikasie: 2015

Uitgewer: LAPA Uitgewers

Gradering: 7/10

 

‘n Hart vol sand is ń treffende jeugroman wat oor alledaagse tienerprobleme handel.

 

Jenna is die hoofkarakter wat haar misnoë reeds op die eerste bladsy uitspreek teen haar nuwe tuiste in die Kalahari, ń dorpie genaamde Kepeke wat “baie” beteken. Dit is ironies, want daar gaan niks aan nie. Die sand, kameeldoringbome en die feit dat daar geen winkels, of eintlik enige iets wat met die stad verband hou, is nie maak die bedorwe stadsbrokkie net nog meer ontevrende. Haar wêreld word egter onderstebo gedraai toe sy die aantreklike Richard, wat haar knieë lam maak, ontmoet. Hierdie klein Noord-Kaapse dorpie het wel nie winkels, strate of enige moderne geboue nie, maar donker geheime het hy in oormaat. Van Cathy wat verlore gaan, tot by Freek se vreemde optrede. Hierdie gebeure lei daartoe dat Jenna haar verhouding met haar vriende en selfs Richard in twyfel trek.

 

‘n Hart vol sand bevat ń vreemde mengsel van gebeure, maar tog is die boek ń lekkerlees roman waarmee tieners hulself kan vereenselwig. Die skrywer, Anzil Kulsen, het in ń onderhoud met litnet.co.za gesê dat daar ń klomp struikelblokke was, maar die karakters wou nie toelaat dat sy tou opgooi nie. Sy vertel verder dat die karakters in haar kop begin leef het. Haar liefde vir skryf kom beslis deur en die boek skep so ń eg-Suid-Afrikaanse gevoel. Die taalgebruik is oorspronklik, vars en modern. Die storielyn beweeg vinnig en is op ń uniek manier saamgeweef. Dit is ń storie van hoop wat teen ‘n hopelose agtergrond afspeel. ń Lekker leesboek vir die vakansie.

Shane Lottriet en Anja Steyn

Die waarde van boeke

Shane Lottriet en Anja Steyn

 

Wêreldboeke-dag vind jaarliks op 23 April plaas en word georganiseer deur UNESCO (United Nations Educational, Scientific and Cultural Organization) om die lees, publisering en die beskerming van kopiereg van boeke te bevorder. Hierdie dag word in meer as 100 lande gevier.

 

Dié dag speel dus ’n belangrike rol in die bewusmaking van die belangrikheid van boeke in die wêreld vandag. Die voordele van boeke sluit in die belangrikheid van die voorkoming van skermafhanklikheid tot die moontlikheid van blootstelling aan verskillende sienswyses en idees.

 

Skermafhanklikheid het ’n aktuele probleem geraak, veral onder die jeug. ’n Onlangse studie, gepubliseer in die joernaal Sleep Medicine, toon dat die jeug van vandag heelwat minder slaap per nag kry ná die wydverspreide gebruik en besit van selfone die status quo geword het.

 

In onderhoude met verskeie leerders van Helpmekaar was die mees algemene mening dat die leerders staatmaak op selfone of rekenaars om alledaagse take te voltooi en belangrike kommunikasies te ontvang. Met die samelewing se snelle ontwikkeling in terme van tegnologie, word selfs boeke gedigitaliseer. Is daar egter nog waarde daarin om te lees wanneer die internet feitlik alle inligting moontlik kan verskaf?

 

Op emosionele vlak is daar bewys dat deur te lees, spanning verminder kan word. In ‘n studie deur die Universiteit van Sussex in 2009, het kognitiewe neurosielkundige, David Lewis, bevind dat deur te lees, stres met tot 68% verminder kan word. Die gebruik van tegnologie is dus onvermydelik en nodig, maar Henri Staal, matriekleerder en onderhoofseun van akademie by Helpmekaar, het aan die Helpie-flitse gesê dat die lees van boeke vir hom belangrik is vir die hantering van stres wat gepaard gaan met die akademiese druk en dat dit hom help om snags te slaap, omdat sy aandag nie deur sy selfoon afgetrek word nie.

 

Verskeie studies deur neuroloë wys ook dat die aktiewe aksie van die lees van boeke voordelig kan wees vir jou konsentrasie, waar die passiewe aksie van die kyk van televisie die teenoorgestelde uitwerking het. Verder hou lees gesondheidsvoordele in deurdat dit die opdoen van geheueverlies en demensie vertraag. Dokter Robert Friedland, kliniese neuroloog, beweer dat mense wat nie lees nie, ‘n groter kans staan om breinkrag later in hul lewens te verloor.

 

Volgens Mnr Ian Bredenkamp, (Gevorderde Program Engels) bevat boeke lewenslesse en interessante perspektiewe. “Lees bied vir jou ‘n kans om die wêreld deur die oë van iemand anders te ervaar,” sê Bredenkamp.