22.78° Clouds
Kies jou weergawe:


Jené Becker

Vanjaar fokus Helpies spesifiek op ʼn gedeelte van hul trotse tradisie met ʼn amptelike projek genaamd die Helpie-way. Die doel van die projek is dat Helpies elke maand ʼn nuwe lewensles leer wat hulle nie net aan mede-Helpies kan oordra nie, maar eendag ook die wêreld kan indra.

Januarie se lewensles was “I hate nothing about you”. Hierdeur is leerders aangemoedig om hulle onder geen omstandighede aan haatspraak en boeliegedrag skuldig te maak nie. Dit is ʼn baie belangrike lewensles, want deur boeliegedrag te keer en geen rassistiese uitlatings te maak nie, word konflik vermy en selfs lewens gered.

Februarie se lewensles was “Be bespoke”, met ander woorde, wees net jouself. Die pad wat jy gaan volg, die keuses wat jy gaan maak en die persoon wat jy gaan wees, is jou eie keuse, niemand anders s’n nie.

Maart se tema is “Be brave”. Die Helpies is aangemoedig om alle fisieke en emosionele uitdagings wat onoorkomelik lyk, aan te pak en om braaf te wees.

Helpies is baie positief oor die projek. Volgens een is dit “…ʼn baie goeie manier om die Helpie-karakter in die Helpies te skep”, terwyl ʼn ander een van mening is dat dit ʼn goeie projek is, “… want dit maak Helpmekaar net nog meer uniek”. Juf. Karen Stapelberg bestempel die Helpie-way as ʼn navolgingswaardige inisiatief.

Kies jou gunsteling plakkaat:

SIEN UITSLAE

Loading ... Loading ...

 

Straatpraat: Onnies sê oor Helpie-way

Karla Jonker

Die waardes van omgee, respek en skooltrots, kortliks genoem, die Helpie-way, is die grondslag waarop Helpmekaar gebou is. Die Helpieflitse het by ‘n paar nuwe onnies gaan uitvind wat die helpie-way vir hulle beteken.

 

Mnr Dewald Peyper (BS en LO): “Die Helpie-way is verseker waardes en maniere van leef waarmee ek myself kan vereenselwig en waarna ek daagliks strewe.”

Me. Jeannemie Hayward (Rek en RTT): “Vir my is die Helpie-way beslis ‘n leefwyse. Beginsels, waardes en tradisies waarop jy jou eie lewe kan skoei. Vir my is dit die fondament wat ons saambind, ons één maak as Helpie-familie.”

Me. Helene Vermaak (Visuele Kuns): “Dit slaan my asem weg! Die omgee van onderwysers en die gewilligheid om te help.”

 

Mr. Lourens Weyer (Ekonomie): “Die Helpie-wsay is ‘n etos of kultuur waarin jy inkoop, nie omdat jy moet nie, maar omdat jy wil.”

Me. Sharon Coetzee (BS en Rek): “Die Helpie-way maak die lewe, selfs vir ‘n nuwe personeellid, soveel makliker. Dit weerspieël die hulpverlening wat ek alreeds in my kort tydjie hier ontvang het uit soveel verskillende oorde. Daarsonder dink ek sou die skuif na Helpmekaar soveel moeiliker gewees het.”

Me. Anja Scheepers (Wisk en FW): “Helpmekaar is werklik ‘n besonderse skool. Ek het nog nooit sulke goedgemanierde leerders gehad wat mekaar en die onderwysers met soveel deernis en respek behandel nie.

Mnr Rudolf Korb; BS en Eko: “As oud-Helpie verstaan en kén ek die Helpie-way al te goed! My ervaring is dat omgee en liefde vir mekaar baie sterk staan!”

Pitkos vir marathon-termyn

Danielle Brink

Termyn 1 van 2019 is 14 weke lank … Die normale werkstempo en -intensiteit waarmee ’n Helpie daaglikse verpligtinge aanpak, bly onveranderd. Die vraag is egter, watter lewenswyse is volhoubaar? Hoe kan mens hierdie resies suksesvol voltooi?

Om daaglikse bedrywighede aan te pak, is dit noodsaaklik om jou lyf te ‘herlaaiʼ. Die hoeveelheid slaap wat elke mens nodig het, verskil, maar die kwaliteit van jou slaap is van die uiterste belang. Kwaliteit slaap vind plaas wanneer mens ten minste 85% van die totale tyd wat jy in die bed spandeer, ʼn diep, verkwikkende slaap slaap.

Wenke vanaf die National Sleep Foundation om beter en vinniger aan die slaap te raak:

  1. Slaap in ʼn vertrek wat nie te warm is nie met goeie ventilasie.
  2. Gebruik jou bed slegs vir ontspanning; werk by ʼn werksblad.
  3. Probeer om by ʼn slaapskedule te hou, selfs oor naweke.
  4. Gaan elke aand deur dieselfde roetine voordat jy gaan slaap.
  5. Vermy skermtyd twee ure voor jou slapenstyd.

Gereelde oefening bou ʼn gesonde selfbeeld en verskaf genoeg energie om die marathon te voltooi. “Gim het my baie gehelp om stres te hanteer, my kop skoon te maak en my energievlakke hoog te hou en sonder my daaglikse oefening sou ek nie die pas kon volhou nie,” vertel 2018 se redakteur, Aleida de Bruyn. Om aan sport deel te neem, is ʼn lekker manier om met mense buite jou geriefsone in kontak te kom en terselfdertyd vir jou ʼn ander perspektief op jou take te gee.

Volgens Healthline se artikel oor ʼn gebalanseerde dieet, is ’n gebalanseerde eetplan “baie belangrik omdat jou organe en weefsels behoorlike voeding nodig het om effektief te werk. Sonder goeie voeding is ʼn mens se liggaam geneig tot siekte, infeksie, moegheid en wanfunksionering.” Die brandstof waarmee jy jou liggaam voed, is ’n baie belangrike deel van ’n volhoubare lewenstyl. Op die langer duur is dit dus beter vir jou liggaam om van alle kossoorte in te neem en nie ʼn groep kosse heeltemal uit te sny nie.

Wenke vir krisistye (crunch time) van Lynette Viljoen (kinderleiding van HMK):

  1. Beplan studietye en rustye (45 min. leer, 15 min. verposing)
  2. Loop rond, swem of speel met die hond tydens verposings, maar GEEN aandag moet op ʼn skerm gerig wees nie. Neem na drie siklusse ʼn 45 min. verposing wat skermtyd kan insluit.
  3. Eet gesonde peuselhappies: neute, vrugte, ens.
  4. Hou jou gedagtes en gesprekke positief.

Dink jy die Helpies kry genoeg slaap?

SIEN UITSLAE

Loading ... Loading ...

Ervaar geestesgeluk in aanvaarding

Shane Lottriet

Dit is ‘n realiteit dat die leerders van Helpmekaar nie in die skoolomgewing blootgestel word aan ‘n wye verskeidenheid van gelowe nie, en alhoewel daar vir ons waardes van aanvaarding geleer word, bly staan die vraag: hoe vind ek geloofsbevrediging in ‘n omgewing wat in kontras staan met my oortuigings?

Elke geloof het sy eie oortuigings, maar wat elk een van die laasgenoemde wél in gemeen het, is liefde.

In ‘n vertrek vol Moslems gaan die hoofbesprekingspunt nie Christenskap wees nie, maar jou doel as Christen kan steeds vervul word deur empatie en aanvaarding teenoor dié individue te toon.

Ter ondersteuning hiervan sê 1 Petrus 3:8 : “En eindelik, wees almal eensgesind, medelydend, vol broederliefde en ontferming, vriendelik.”