22° Clear
Kies jou weergawe:

Nikolas Germishuysen

Helpies se topptresteerders het beïndruk op die akademiese prysuitdeling in Oktober verlede jaar. Hulle deel hulle slimword-geheime met ons.

 

 

Moné de Necker (gr. 9)

Dit verg definitief harde werk om ‘n toppresteerder te word. Jy moet ook goed kan beplan om by al die verskillende aktiwiteite uit te kom en tyd te maak vir leer en huiswerk doen. Dit verg ook deursettingsvermoë, maar ek dink die belangrikste ding is ‘n positiewe ingesteldheid en om steeds die lewe te geniet. Mens sal net presteer as jy passievol is oor dit wat jy doen.

Lize-li Smit (gr. 10)

Leef naby die Here. As dit goed gaan, bid. As dit sleg gaan, bid. Spits jou ore in die klas. Bêre jou selfoon VER weg. Drink genoeg water (‘n ‘rosyntjiebrein’ kan nie dink nie). Wees gaaf met jou ma, sy maak koffie. Beplan ver vooruit. Moenie werk uitstel nie, elke dag het nóg iets om te doen. Bly altyd op datum met die werk! Moenie deur die nag werk nie. Bly nederig.

Neale Berkenbosch (gr. 11)

Een van die belangrikste dinge is dat jy altyd moet oplet in die klas – dit is al reeds 40% van jou sukses. Jy moet ook altyd huiswerk doen, veral in wiskundige vakke. Vir leervakke moet jy so veel as moontlik op so min as moontlik papier opsom, dit wil sê al die detail verminder tot slegs die kern. Dit is ook belangrik dat jy moet tyd maak om te ontspan.

Mignon Drotschie (gr. 12)

Om te presteer verg harde werk. Mens moet altyd vooruit beplan en betyds begin met take en genoeg tyd maak vir leerwerk. Huiswerk is belangrik en moet gereeld gedoen word sodat jy nie agterraak nie. Let altyd op in die klas en vra as jy nie verstaan nie. Moenie moed opgee as dit moeilik gaan nie. Ondersteuning van ouers en vriende help ook baie.

ONddies se matriekpunte

Watter departement het die slimste onnies?

SIEN UITSLAE

Loading ... Loading ...

Vreemde beroepe wink

Anja Steyn

Vra enige hoërskoolleerder wat hy of sy eendag wil word en jy kry vier standaard antwoorde: dokter, prokureur, rekenmeester of ingenieur. Alhoewel hierdie vir die meeste Helpies lyk soos hul enigste opsies, is daar ander interessante beroepe wat nie elke Jan Rap en sy maat volg nie.

Deur die besige akademiese skedule van Helpmekaar, is dit verstaanbaar dat sommige leerlinge ná hul rowwe matriekjaar wil rus. Daar kan egter geld verdien word hieruit. Jy kan geld verdien om te slaap terwyl wetenskaplikes slaappatrone navors.

As jy jouself meer sien as iemand wat eerder rus deur Netflix te kyk, kan jy ook ‘n beroep daarin najaag. ‘n Professionele Netflix-kyker kategoriseer die verskillende TV-programme sodat Netflix meer verbruikersvriendelik kan wees.

Indien jy van kos hou en ‘n ontwerpersoog het, kan jy ‘n kosstilis word. ‘n Kosstilis rangskik die geregte op advertensies op so ‘n manier dat dit so aanloklik as moontlik lyk. ‘n Ander kosverwante beroep is ‘n kougom-resensent. Hierdie persoon assesseer die geure van nuwe kougom vir maatskappye en ontwikkel nuwe kougom-produkte.

Nóg ‘n onkonvensionele beroep is ‘n privaat mode-konsultant. Deur hierdie beroep te volg, werk jy met een kliënt en maak seker dat sy of haar klerekas op datum is met die nuutste modes.

Indien jy nog wik en weeg oor wat om te studeer en jy geniet Desembervakansies op Plettenbergbaai, is daar ‘n oorweegbare opsie beskikbaar. By die Plymouth Universiteit in Engeland kan jy Branderplankry en Tegnologie studeer.

Wie weet, jy raak dalk nog skatryk uit een van hierdie beroepe.

 

IEB vs. CAPS: is die skool die sous werd?

Danielle Brink

Die dikwels emosionele debat oor IEB (Independent Examinations Board) vs. CAPS (South African National Curriculum) word elke jaar met die aankondiging van die matriekuitslae afgestof. Die gevaar is egter om meegesleur te word deur emosionele oortuigings in plaas daarvan om die naakte feite objektief te bekyk. Objektief beskou, lyk die uitslae as volg:

Behalwe vir skole wat die Cambridge-eksamens aflê, verkry alle suksesvolle Graad 12-leerders in Suid-Afrika ’n Nasionale Senior Sertifikaat (NSS). Anders gestel, die matriekuitslae van Hlokwe, Hanover, Helpmekaar en Hilton word deur dieselfde toesighoudende instansie, UMALUSI, in Pretoria goedgekeur.

In Januarie 2018, tydens die jaarlikse bespreking van matriekuitslae, maak Lucky Ditaunyane, kommunikasiehoof van UMALUSI, die volgende stelling aan die Huffington Post: “Umalusi se mandaat is om te verseker dat vraestelle wat deur verskillende assesseringsliggame gestel word, gelykwaardig is ten opsigte van sowel die moeilikheidsgraad as die verspreiding van die hoërorde, middelorde en laerorde kognitiewe vlakke van die vrae wat in die vraestelle gevra word. Beide IEB en DBE (Department of Basic Education) volg die kurrikulumassesseringsbeleidstate (CAPS) met geringe verskille in assesseringsriglyne.” Hieruit kan die afleiding gemaak word dat daar nie ’n noemenswaardige verskil tussen die IEB- en die CAPS-leerplan is nie.

 Hoe volledig en goed is die CAPS- en IEB-leerplan dan? Die realiteit is dat Suid-Afrikaanse universiteite redelike aansien in die res van die wêreld geniet. So, byvoorbeeld, word beide die universiteite van Pretoria (UP) en Stellenbosch (US) se ingenieursgrade internasionaal aanvaar. Aktuariële grade van Wits (Universiteit van die Witwatersrand), die US en die UK (die Universiteit van Kaapstad) verkry krediete by die betrokke internasionale liggame, terwyl ons medici wêreldwyd hoog in aanvraag bly.

Volgens ’n studie aan die UK (2008) het leerlinge van IEB skole ’n 98% slaagsyfer oor ’n drie jaar periode behaal. Hierteenoor het ’n 2013 Council of Higher Education (CHE) studie van alle studente bevind dat slegs 15% van studente ’n drie jaar graad in drie jaar voltooi, dat 48% omtrent twee jaar langer neem en dat 55% nooit klaarmaak nie. Volgens dié studie is ‘studente wat onvoorbereid is’, die hooffaktor. Uit die 2008 studie kan ons dus aflei dat ’n groot persentasie van die 15% studente wat die drie jaar graadkursus in drie jaar voltooi die IEB kurrikulum gevolg het.

Om dus tot ʼn slotsom aangaande die deurlopende debat te kom, kan mens sê dat daar nie ’n noemenswaardige verskil tussen die IEB- en CAPS-leerplan is nie, dat UMALUSI wel ruimte skep vir andersoortige voorbereiding vir en assesering van eksamens en dat IEB-studente beter vaar by universiteite in Suid-Afrika.