Besige termyn vir kultuurdiere

Anika de Beer

Die Eldoraigne-dansgroep het hulle harte uitgedans tydens die Helpmekaar-Eldoraigne-kultuuraand. Foto deur Mia Langenhoven.

By Helpmekaar staan tyd vir niks en niemand stil nie. Voor jy jou oë kon uitvee, is dit die einde van die eerste termyn. Hierdie termyn het daar vele kultuuraktiwiteite plaasgevind en die voorbereidings vir die produksie en tienertoneel het reeds in alle erns begin.

Soos vorige jare het die kultuurjaar vinnig afgeskop met uitdunne vir die ATKV-redenaarskompetitsie, spraakgildespanne en debat. Die oratorskursus wat op 21 en 22 Februarie plaasgevind het, het leerders die geleentheid gebied om hul vermoë om met woorde te woeker, te verbeter. Hier het twee kenners op die gebied van debat die leerders touwys gemaak.

Die koor het groot planne vir die jaar en met die groot getal graad 8’s wat by die koor aangesuit het, spog die koor nou met ’n rekordgetal lede van amper 110. Die koorjaar het afgeskop met ’n koorkamp in die Magaliesberge. Alhoewel daar hard gewerk is om die nuwe stukke in te oefen, is tyd ook ingeruim vir pret en kuier. Die koor se eerste optrede op 23 Januarie by die Laudatio was ’n reuse sukses en by die kultuuraand op 6 Maart was die gehoor gaande oor die koor se uitvoering van die nuwe stukke.

Dat Helpies van praat hou, is ’n feit. Dat hulle dit dus geniet het om op 9 Maart aan die ATKV-Spraakgildekompetisie deel te neem, is daarom ’n feit soos ’n koei. Ons debatleerders het ook hul stem dik gemaak by die eerste debatskompetisie van die jaar wat op 6 en 7 Maart by Hoërskool Linden plaasgevind het. Hier het hulle gedebatteer oor sake soos: “Moet geskiedenis ’n verpligte vak op hoërskool wees?” en “Sal die onttrekking van multi-nasionale maatskappye Suid-Afrika tot voordeel strek?” Ons sien uit na die semi-finale rondte van die ATKV-debatskompetisie wat op 17 en 18 April by Helpmekaar plaasvind.

Die produksie-oudisies het suksesvol verloop en die klankopnames word tans voltooi. Die deelnemers aan die tienertoneel en musiekblyspel is ook reeds hard aan die oefen ter voorbereiding van die jaarlikse ATKV-tienertoneelstreeksfees wat in Julie en Augustus plaasvind.

Hierdie termyn se kultuuragenda was propvol opwinding en entoesiasme. Daar was vele geleenthede om mens op kultuurgebied uit te leef en die deelnemers het hard gewerk. Ons sien uit na wat die volgende termyn gaan oplewer.

.

Nico Olivier (gr. 10) het ‘n uitmuntende trekklavierstuk gelewer.
Foto deur Mia Langenhoven.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *