Bekroonde skrywer gesels zombies, rympies en jeugromans

 

Die bekroonde Afrikaanse kinderboekskrywer, Jaco Jacobs, mag dalk nie ‘n das kan knoop nie, sy hoogtevreesfobie het beslis nie gekeer dat hy bekroon is as topverkoperjeugromanskrywer nie en terwyl hy die Comrades-Marathon hardloop, word sy boeke in Engels en Italiaans vertaal. Wie is die skrywer? Tania Brink? Of dalk Liza Roux? Ja, maar baie van ons ken hom eerder as Jaco Jacobs.

 

  1. Is daar een van jou boeke wat jy as ‘n gunsteling kon uitsonder?

Sjoe, dis baie moeilik om te kies! Ek het verskriklik lank en hard gewerk aan die 366 rympies in Moenie hierdie boek eet nie!, en baie van die rympies laat my steeds lag as ek dit hardop voorlees, so ek dink daardie boek is beslis een van my gunstelinge. Boonop is ek mal oor die illustrasies deur Zinelda McDonald!

  1. Watter boek/digbundel het jy die meeste geniet om te skryf ?

Mmm, ook ’n moeilike vraag … Ek moet sê ek het baie lekker gewerk aan my nuwe boek Oupa Zombie wat volgende jaar verskyn. Dis ’n snaakse avontuurverhaal oor ’n outjie wie se oupa besig is om in ’n zombie te verander … maar dan ontdek hy ’n eienaardige teenmiddel: broccoli! Kort voor lank is die Zombiepolisie egter op hulle spoor, en dit gee ’n dolle jaagtog af. Ek het baie lekker gelag terwyl ek die storie geskryf het.

  1. Dink jy ’n mens kry meer inspirasie om te skryf in ’n stil plek soos die Karoo?

Ja, ek het in die Karoo grootgeword, en ek dink beslis die stilte help!

  1. Wat is jou gunsteling-aspek van jou werk?

Ek dink die ding van my werk wat ek die meeste geniet, is dat dit meeste van die tyd nie regtig soos werk voel nie. Wanneer ek lekker aan ’n storie skryf, is dit vet pret! Ek kan oumas in rocksterre verander, ruimtewesens uitoorlê, teen weerwolwe baklei, ’n rockgroep begin, heeldag in bome rondklouter as ek wil – dis alles deel van my werk. Nie baie mense kan dit sê nie!

  1. As jy nie ’n skrywer kon wees nie wat sou jy wou wees ?

Toe ek klein was, was my droom om ’n krokodiltemmer in die sirkus te word. Dit klink nog steeds vir my na pret …

  1. Ek het gelees dat jy reeds in graad 3 Stephen King se boeke gelees het, so kan ek aanneem dat jy op datum is met Game of Thrones se boeke?

Haha! Nee, ek het glad nie die Game of Thrones-boeke gelees nie. Ek is wel ’n groot aanhanger van die TV-reeks.

  1. Wat beskou jy as harder werk: ’n digbundel of ’n jeugroman?

Beslis ’n jeugroman. Albei genres het sy eie uitdagings, maar dit verg baie konsentrasie om al die storielyne en drade van ’n jeugroman bymekaar te hou, en seker te maak die storie is tot op die laaste bladsy boeiend en die moeite werd om te lees. Jy moet weet presies wie jou karakters is, en dit is harde werk om hulle te leer ken!

  1. Sal jy dit ooit oorweeg om jou heel eerste boek te publiseer?

Jy bedoel die eerste “boek” wat ek as skoolkind geskryf het? Gits, nee. Ek het op skool baie gedigte geskryf, maar ek is bevrees dit was maar vrotsig en beslis nie goed genoeg vir publikasie nie. Dis maar soos om ’n musiekinstrument te leer speel – jy gaan nie sommer dadelik wegtrek en perfek speel nie. Dit verg jare se oefening.

  1. Toe jy Suurlemoen! geskryf het, het jy ooit gedink dit sal in ’n film omskep word?

Nee, nie in my wildste drome nie! Ek was baie verbaas toe die filmregte vir die boek verkoop is.

  1. Kan jy vir ons ’n versie skryf wat kinders en jongmense kan motiveer om te lees?

Kom ek probeer …

  1. Het jy enige droom om eendag jou skryfwerk op Hollywood se planke te sien?

Nee, glad nie. Ek skryf nie met daardie soort doel voor oë nie – ek sit maar net elke dag by my lessenaar en probeer die soort stories skryf wat ek self as kind geniet het om te lees, en dan hoop ek maar kinders hou daarvan.

  1. Ek het gelees dat jy baie van wetenskapsfiksie hou om self te lees, maar is daar ’n genre wat jou dalk verveel en nooit sal lees nie?

Ja – selfhelpboeke. Ek moes een keer in my lewe ’n selfhelpboek lees sodat ek dit kon resenseer. Dit was die verveligste paar uur van my lewe!

  1. Het jy ’n gunsteling-boek en -skrywer/digter?

Ek het sommer hope gunstelinge – mense soos David Walliams, Roald Dahl, Enid Blyton, Astrid Lindgren, Brian Patten en Brian Moses het baie van my eie skryfwerk geïnspireer.

  1. Het jy ’n boek wat jy self geskryf het wat altyd na aan jou hart sal bly?

Elke boek wat ’n mens skryf, het maar ’n spesiale plekkie in jou hart. Dit neem soveel tyd en energie om ’n storieboek of ’n rympiebundel te laat werk. Maar boeke wat my veral na aan die hart lê, is ’n Goeie dag vir boomklim en Moenie hierdie boek eet nie!.

  1. Lees jou vrou graag?

Ja, sy is ook lief vir lees. Vakansietye lees sy soms meer as ek!

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *