As jy dit kan droom, kan jy dit doen

Megan Saaiman

Helpmekaar spog met besonderse talentvolle sportmanne en -vrouens. Daar is soveel leerlinge wat ongelooflike prestasies bereik. Drie van hierdie leerlinge is Gené Coetzee (gr. 11), Mieke van Deventer (gr. 12) en Trityn Parsons (gr.9). Hulle het elkeen vyf vinnige vrae beantwoord.

Gené Coetzee op die atletiekbaan.
Foto verskaf deur Gené Coetzee.

Gené Coetzee is een van Helpmekaar se top atlete. Gené is van plan om vir Suid-Afrika deel te neem aan die Olimpiese Spele.

  1. Hoe het jy op die spesifieke sport besluit?

Ek was van kleins af baie lief vir hardloop. Albei my ouers was goeie atlete. My pa was ‘n middel- en langafstandatleet en my ma was ‘n kortafstand-atleet. Ek het groot geword in ‘n huis waar atlektiek belangrik was en daar het my liefde vir die sport begin. Ek het eers in graad 6 ernstig begin hardloop en het toe by my afrigter, Riaan Strydom, begin oefen.

  1. Hoe baie oefen jy en neem jy deel reg deur die jaar?

Ek oefen reg deur die jaar elke dag vir ongeveer een en ‘n half uur. Oefening is vir my ‘n lewenswyse. Ek is bevoorreg om deel van ‘n dinamiese oefengroep wat ook my passie vir die sport deel te wees.

  1. Wie is jou rolmodel in hierdie sport?

Dit was vir my baie spesiaal om ‘n atletiekkursus saam met Elana Meyer te kon doen, omdat sy my inspireer. Ek leer baie, veral tegniek aangaande langafstande, by haar en om haar as ‘n rolmodel te hê, gee vir my elke keer iets om voor te werk. Zola Budd is ook een van my rolmodelle vir baie van dieselfde redes as Elana Meyer.

  1. Wat wil jy met hierdie sport bereik?

Ek het in 2018 by die Tricolours in Reggio-Emilia in Italië 2 goue medaljes verwerf. In Maart verlede jaar het ek by die Werêldkampioenskappe, in Aarhus, Denemarke, deelgeneem. Die Suid-Afrikaanse 0.20-span waarin ek deelgeneem het, het 5de in die werêld by die byeenkoms geëindig. Ek het in Januarie hierdie jaar gekwalifiseer om deel te neem aan die Afrika-spele in Togo wat in April gaan plaasvind. Ek beoog om na matriek in Amerika atletiek te gaan beoefen.

  1. Wat doen jy wanneer jy voel jy nie meer kan nie of as jy verloor het? Wat motiveer jou?

Atletiek is vir my ‘n passie. My droom om eendag Olimpiese Spele toe te gaan, motiveer my elke keer as ek voel ek kan nie meer nie.

Trityn Parsons op die rugbyveld reg om te skop. Foto geneem deur Wilhelm Helmbold.

Trityn Parsons is ‘n rugbyspeler wat elke oomblik in sy bruin trui geniet. Hy glo dat sport vir mens belangrike vaardighede aanleer. Mens hoop om die positiewe sportman eendag in die Groen-en-Goud te sien uitdraf.

  1. Hoe het jy op die spesifieke sport besluit?

Dit is ‘n my passie om rugby te speel, want ek wil soos my pa wees. Ek geniet die sport en is passievol daaroor.

  1. Hoe baie oefen jy en speel jy reg deur die jaar?

Ek oefen reg deur die jaar rugby. Ek oefen Desember ook, want ek wil als wat ek kan, insit.

  1. Wie is jou rolmodel in hierdie sport?

Ek het twee mense na wie ek opkyk. Die eerste persoon is my pa, want hy deel my passie vir rugby. Die tweede persoon is Faf de Klerk, want vir my is hy die perfekte beeld van passie vir ‘n sport en dat enige iets moontlik is. Ek hou vas aan Faf se motto wat sê: “It’s not the size of the man that matters, it’s the size of the heart.”

  1. Wat wil jy met hierdie sport bereik?

Ek sal graag vir ‘n provinsiale of internasionale span op die veld wil draf. Ek neem rugby ernstig op en sal graag ‘n lewe daaruit wil maak.

  1. Wat doen jy wanneer jy voel jy nie meer kan nie of as jy verloor het? Wat motiveer jou?

Vir my gaan dit oor die liefde vir die sport en daarom nie altyd net oor wen nie, maar ook om myself te geniet. My motivering is my liefde en passie vir die sport self. Dit gaan nie vir my oor wen of verloor nie en my slagspreuk waarmee ek myself motiveer is dat, mens nooit verloor nie, jy léér of jy wen.

Mieke van Deventer in aksie op die tennisbaan. Foto verskaf.

Mieke van Deventer is nog ‘n dinamiese sportmeisie wat van plan is om in Amerika haar tennisvaardighede te gaan wys. Hopelik kan Mieke eendag in Wimbledon speel, gegewe al die harde oefening en voorbereiding.

  1. Hoe het jy op die spesifieke sport besluit?

My pa het tennis gespeel toe hy jonger was en dus het ons baie oor naweke op die tennisbaan gaan balle slaan. Ek het net baie van die sport gehou.

  1. Hoe baie oefen jy en speel jy reg deur die jaar?

Die tennisseisoen is nie seisonaal nie en dus speel ek reg deur die jaar. Ek oefen vier keer ‘n week om fiks te bly en om te verbeter.

  1. Wie is jou rolmodel in hierdie sport?

Simona Halep is my rolmodel. Sy inspireer my omdat sy nooit ophou veg in haar wedstryde nie en alles gee tot die laaste minuut. Sy glo in haarself en speel met selfvetroue. Dit is presies wat ek wil bereik en hoe ek elke keer wil speel wanneer ek op die tennisbaan is.

  1. Wat wil jy met hierdie sport bereik?

Ek wil graag in Amerika gaan studeer en ek hoop om ‘n beurs los te slaan. Ek wil ook graag eendag ons land in die FED-beker verteenwoordig.

  1. Wat doen jy wanneer jy voel jy nie meer kan nie of as jy verloor het? Wat motiveer jou?

Tennis is ‘n individuele sport en kan baie eensaam wees. Ek is gelukkig om baie goeie vriende op die tennisbaan te hê wat saam met my staan deur moeilike tye. Ons ondersteun mekaar, want almal van ons weet hoe dit voel as ons ‘n moeilike wedstryd speel en hoe moeilik dit is om net aan te hou veg. Wanneer ek verloor, onthou ek altyd dat ek dit moet sien as ‘n les. Ek moedig myself aan om uit die verloor te leer dat dit my net beter en sterker sal maak.  My drome en passie vir die sport motiveer my om my beste te gee elke keer en beter terug te kom.

One thought on “As jy dit kan droom, kan jy dit doen

  • April 22, 2020 at 7:07 pm
    Permalink

    Verby trots op al ons Helpie Sport sterre

    Reply

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *