Amerika wink vir Helpie langasem

Nikolas Germishuysen

Gene Coetzee is opgewonde om in Togo aan die Afrika-spele deel te neem in Maart 2020. Foto verskaf.

Vandat sy kon staan het Gené Coetzee (gr.11) eerder gehardloop as geloop. En geen wonder nie. Die atletiekgeen is in haar bloed. Haar pa was ‘n Suid-Afrikaanse middelafstandatleet en haar ma het aan kortafstande deelgeneem. Vandag hardloop Gené steeds, terwyl sy een na die ander internasionale medalje inpalm.

Sy was nog altyd lief vir draf, maar het in graad 6 ernstig begin oefen om kompeterend deel te neem. Onder leiding van haar afrigter, Riaan Strydom, oefen sy elke dag twee ure saam met ‘n oefengroep.

“Hardloop leer my geweldig baie.  Beslis uithouvermoë, maar ook om vertroue in myself te hê en nederig te bly,” sê Gené.

In 2018 het Gené drie goue medaljes in Italië verower. In 2019 het sy vir Suid-Afrika in die pad geval by die Wêreldkampioenskappe in Denemarke. Daar eindig sy derde van die Suid-Afrikaners en verwerf ‘n indrukwekkende 31ste plek uit 112 atlete. In Januarie 2020 kwalifiseer sy om aan die Afrika-spele in Togo deel te neem.

“Dis ‘n groot eer om weer SA kleure te kan dra. ‘n Mens moet jouself nooit onderskat nie. Ek het geleer daar is ‘n groot wêreld daar buite en dat moontlikhede onbeperk is. Jou drome kan regtig bewaarheid word,” sê sy opgewonde.

Gené doen daagliks ook strekoefeninge en maagoefeninge om haar kern sterk te hou. Haar dieet is ook belangrik en sy beperk stysel en suiker en eet baie proteïne, groente en vrugte. Sy gaan ook gereeld vir ‘n vitamien B-inspuiting.

Gené meen dat haar skoolmaats se ondersteuning van onskatbare waarde is en dat die skool haar voorberei vir ‘n toekoms in atletiek.  Sy beoog om in Amerika te studeer en daar ‘n universiteit te verteenwoordig. Die Olimpiese Spele is haar uiteindelike mikpunt.

“Hardloop is deel van my lewe. Dis soos suurstof vir my. Ek voel verlore daarsonder.”

Op my vraag wat sy graag vir ontspanning doen, antwoord sy met ‘n glimlag: “Ek gaan draf ‘n entjie.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *