A19 Vreemde beroepe wink

Vra enige hoërskoolleerder wat hy of sy eendag wil word en jy kry vier standaard antwoorde: dokter, prokureur, rekenmeester of ingenieur. Alhoewel hierdie vir die meeste Helpies lyk soos hul enigste opsies, is daar ander interessante beroepe wat nie elke Jan Rap en sy maat volg nie.

Deur die besige akademiese skedule van Helpmekaar, is dit verstaanbaar dat sommige leerlinge ná hul rowwe matriekjaar wil rus. Daar kan egter geld verdien word hieruit. Jy kan geld verdien om te slaap terwyl wetenskaplikes slaappatrone navors.

As jy jouself meer sien as iemand wat eerder rus deur Netflix te kyk, kan jy ook ‘n beroep daarin najaag. ‘n Professionele Netflix-kyker kategoriseer die verskillende TV-programme sodat Netflix meer verbruikersvriendelik kan wees.

Indien jy van kos hou en ‘n ontwerpersoog het, kan jy ‘n kosstilis word. ‘n Kosstilis rangskik die geregte op advertensies op so ‘n manier dat dit so aanloklik as moontlik lyk. ‘n Ander kosverwante beroep is ‘n kougom-resensent. Hierdie persoon assesseer die geure van nuwe kougom vir maatskappye en ontwikkel nuwe kougom-produkte.

Nóg ‘n onkonvensionele beroep is ‘n privaat mode-konsultant. Deur hierdie beroep te volg, werk jy met een kliënt en maak seker dat sy of haar klerekas op datum is met die nuutste modes.

Indien jy nog wik en weeg oor wat om te studeer en jy geniet Desembervakansies op Plettenbergbaai, is daar ‘n oorweegbare opsie beskikbaar. By die Plymouth Universiteit in Engeland kan jy Branderplankry en Tegnologie studeer.

Wie weet, jy raak dalk nog skatryk uit een van hierdie beroepe.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *