A19 Verf die wêreld geel

Ons word daagliks aan ’n groot hoeveelheid inligting blootgestel, eintlik gebombardeer.

Die ysberge smelt, nóg ’n man is moontlik van VIGS genees, vliegtuie val, karre word in die ruimte opgestuur en Marelize kan nie fiets ry nie.

Daar word altyd vir ons gesê:

“Hou by met die tye.”

“Wees ingelig.”

“Lees koerant.”

Dit het egter nie altyd nét die gewenste uitwerking nie. Volgens Isaac Newton se derde wet van beweging, het elke aksie ’n gelyke reaksie in die teenoorgestelde rigting. Hierdie bly ’n feit nie net in die wetenskapklas nie, maar ook wanneer dit kom by die opneem van inligting en die reaksie daarop deur mense. Die verskil, Helpie, is dat jý kan kies in watter vorm jy daardie energie terug die wêreld in strooi.

Toe ons skool die knie moes buig by die interhoër vir twee agtereenvolgende jare, het ons nie gereageer met die negatiwiteit wat gevoel is nie, maar eerder met harde werk en ywer wat bygedra het tot vanjaar se sukses.

As armoede volop is en soos ’n nimmereindigende krag die wêreld afkraak, hoe word daar deur die Helpies gereageer?

Ons het huise gebou, geskenke gegee, hondjies gevryf en magies gevul.

Me. Linda Peacock het my hierdie termyn voorgestel aan die woord “giggelgeel” in die Afrikaanse klas. Verward het ek eers na haar gekyk, maar hierdie woord het my onmiddellik gefasineer oor die unieke manier hoe dit ’n positiewe konnotasie by my geskep het. Daarom is die besluit gemaak om die tema van hierdie termyn se uitgawe “giggelgeel” te doop.

In die uitgawe waardeur jy nou gaan blaai, word die positiwiteit wat hiérdie woord uitstraal, uitgebeeld in elke opskrif en in elke glimlag van elke Helpie.

Verf die wêreld in jou eie skakering van geel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *