A19 Helpies gee met ʼn glimlag

By Helpmekaar word daar dikwels na die Helpie-familie verwys en hoe leerders na mekaar omsien as die nood druk. Hierdie sterk verweefde Helpie-familie is egter ook daarvan bewus dat hulle deel is van ʼn groter, meer diverse gemeenskap. Daarom skroom hulle nie om hul identiteit uit te leef en sodoende hul plig in die breër gemeenskap na te kom nie.

Helpmekaar is verantwoordelik vir ʼn menigte inisiatiewe en vorm deel van bestaande projekte wat na die gemeenskap in al sy diversiteit van unieke behoeftes uitreik. Onder die leiding van juffroue Carien Wessels, Karen Wissekerke en Helene Vermaak word daar onder andere uitgereik na bejaardes, kinders en diere wat werklik ʼn Helpie-hand nodig het.

Sommige projekte vind in sekere termyne plaas, terwyl ander regdeur die jaar plaasvind. Daar is altyd nog plek vir Helpies om hieraan deel te neem.

Een van hierdie projekte, “Meals on Wheels”, behels die insameling van leë houers vir hergebruik deur voedingskemas vir minderbevoorregtes. Vir hierdie doel is ʼn houer in juffrou Wessels se klas beskikbaar gestel waarin leerders en ouers die leë houers gerieflik kan plaas.

ʼn Ou bekende en gunsteling inisiatief is Parksorg wat een keer per maand op ʼn Woensdagmiddag plaasvind. Gedurende Valentynsweek skenk die Helpies blomme vir bejaardes, in die winter word warm klere en komberse uitgedeel en aan die einde van die jaar word kerspakkies versprei.

“Ons het almal ʼn plig om van mekaar te leer deur mekaar te help. Hiér is waar dit gebeur,” sê Anay Coetzee, portefeuljelid vir gemeenskapsdiens.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *