Shane Lotriet

Op 27 Februarie 2019 het die Helpies soos een man aan die jaarlikse super-interhoër by die Ruimsig stadion deelgeneem. Die atlete van Helpmekaar het daarin geslaag om ʼn vierde keer die wennerstrofee vir die A-bond omhoog te hou en boonop voor die tuisskare van vanjaar se naaswenners, Prestige Kollege. In die voorafgaande twee jare moes die Helpies die knie buig voor die atlete van Prestige Kollege.

Helpmekaar het vanjaar hierdie oorwinning met 23 goue, 26 silwer en 22 brons medaljes behaal. Die gr. 8’s van Helpmekaar het ʼn treffende eerste indruk gemaak toe Zanique Swanepoel met ʼn tyd van 12.23 sekondes tweede geëindig het in die 100m-naelloop. Daarmee het sy 1 057 punte volgens die ABSA-tabel verwerf. Zanique het later ook ʼn goue medalje in die 200m-naelloop verwerf met ʼn tyd van 25.34 sekondes, wat aan haar ʼn puntetal van 1 051 besorg het.

Vroegoggend was dit al duidelik dat die meer as duisend Helpie-ondersteuners weer eens die berugte temperature wat die interhoër elke jaar kenmerk, sou moes trotseer toe die kwik tot 30˚C gestyg het.

“Wat hierdie wen vir my besonders maak, is die feit dat hierdie jaar se matrieks in 2015 as gr. 8’s kon beleef hoe Helpmekaar die interhoër wen, en vier jaar later wéér die voorreg het om die oorweldigend trots te voel,” sê Josh Stockigt, atletiekkaptein en matrikulant.

Op 6 Maart 2014 het Helpmekaar geskiedenis gemaak deur vir die eerste keer as wenners van die A-bond aangewys te word met ʼn oorwinning van 56 punte oor die hoërskool Monument. In 2015 vergroot Helpmekaar die punteverskil tot 78 met Monument steeds in die tweede plek.

Kempton Park het egter in 2016 die oorhand oor Monument gekry en sodoende die posisie van naaswenners ingeneem. Helpmekaar is toe vir die derde agtereenvolgende jaar as wenners aangewys. In hierdie jaar het Prestige Kollege die eerste keer die B-bond gewen.

In 2017 het die atletiekwiel egter gedraai toe die nuwelinge, Prestige Kollege, met hul eerste deelname aan die A-bond vir Helpmekaar met ʼn aansienlike punteverskil van 105 na die tweede plek laat skuif het ‒ ʼn prestasie wat hulle in 2018 herhaal het.

Die opwinding het dus behoorlik na vanjaar se byeenkoms opgebou.

Josh Stockigt se eweknie, Xanté de Klerk, beskryf die dag soos volg: “Asemwrowend. Dis al wat ek kan sê.”