A19 Busbestuurders werk harder as wat ons dink

Die meeste Helpies word elke oggend met ‘n gesukkel wakker om betyds te wees vir die bus. Daar word selde gedink aan die feit dat die bus nie elke oggend vanself by die busstop parkeer nie.

Elke oggend staan 55-jarige Elson Chiloane, ‘Maximus’ se busbestuurder, al om 4:00 op, sodat hy teen 4:40 in die bus kan klim en ry tot by die eerste busstop in Featherbrooke. Hy beskryf sy belewenis aangaande dié vroeë werksure as volg: “Elke keer as ek so vroeg opstaan, dan vóél ek die pyn.” Hy arriveer teen sowat 5:45 by die busstop om die eerste paar passasiers op te laai. Eers moet daar gery word tot by verskeie busstoppe, en daarna arriveer hy uiteindelik weer by die skool.

Die dag is egter nog lank nie verby nie. ‘Vasklou’ se bestuurder, Lucky, vertel dat daar eers tot 8:30 ‘n vergadering is met mnr. JP rakende die busreëlings wat elke dag varieer. “En dan is dit werk, werk werk.” Die roosbome in die tuin kort ‘n dringende snoei. Die swembad is weer groen na die reën. ‘n Koshuisleerder het sy kamerdeur uit sy skarniere geruk. Die rugbyveld se gras is weer te lank en die snoepie se dak moet oorgedoen word. Die is net enkele voorbeelde van die daaglikse onderhoud en herstelwerk wat gedoen moet word. “Hulle is rêrig onmisbare skakels in die Helpmekaar-ketting,” bevestig mnr. JP. Die klein dinge wat ons as vanselfsprekend aanvaar, dinge wat ons skool eintlik ‘n pragskool maak, is tot ‘n groot mate te danke aan ons busbestuurders.

Na skool moet elke bestuurder, soos aangewys tydens die vergadering, leerders na ‘n sport of kultuuraktiwiteit vervoer. Meeste van die drywers keer dan daarna terug skool toe om almal op te laai wat weer afgelaai moet word. Die eerste bus kom eers na 17:00 terug by die skool en die laaste bus arriveer rondom 18:30.

Dit is die daaglikse werksure van Helpmekaar se busbestuurders. En die volgende môre begin alles weer van voor…

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *